Tegnologie-kinders sukkel om potlode vas te hou

Argieffoto (Foto: congerdesign, Pixabay)

ʼn Studie het bewys dat kinders sukkel om potlode vas te hou weens oormatige gebruik van raakskerms wat die spiere in hul hande verswak.

Pediaters het by ʼn ortopediese terapeut en handskrifkenners aangesluit om te waarsku dat kinders hul handvaardigheid verloor deur die oormatige gebruik van raakskerms op selfone en tabletrekenaars en dit lei tot ʼn gebrek aan behendigheid in hul hande wanneer hulle skool toe gaan en leer hoe om te skryf.

Vorige generasies het as kinders meer tradisionele vaardighede aangeleer soos kunsvlyt wat fynmotoriese vaardighede ʼn hupstoot gee.

Aangesien kinders hul hande al hoe minder gebruik om verfkwasse, skêre en kleurkryte vas te hou en nie meer met tradisionele speelgoed soos klei speel nie, ontwikkel die spiere in hul skouer, elmboog en gewrig nie behoorlik nie.

“Kinders kom skool toe en kry ʼn potlood om vas te hou, maar hulle kan dit nie doen nie, omdat hulle nie die basiese vaardighede ontwikkel het nie. Dis makliker om ʼn tabletrekenaar vir ʼn kind te gee eerder as om hulle aan te moedig deur spel wat spiere bou, soos om blokkies te bou,” het Sally Payne van die Heart of England NHS Foundation Trust gesê. “Hulle ontwikkel nie die vaardighede wat hulle nodig het om ʼn potlood vas te hou nie,” het sy aan The Guardian gesê.

Die National Handwriting Association (NHA) het ook gewaarsku dat die oormatige gebruik van raakskerms spierontwikkeling in kleuters strem en dit kan tot selfs swakker handskrifvaardighede lei.

ʼn Onlangse studie het bevind dat 58% van kinders, jonger as twee jaar oud, al ʼn tabletrekenaar of selfoon gebruik het. Talle kleuterskole het ook interaktiewe slimskerms en raakskerm-rekenaars geïnstalleer sodat kinders al van jongs af hul digitale vaardighede kan ontwikkel.

Onderwysers het ook gewaarsku teen ʼn afname in kinders se behendigheid. Bob Drew, skoolhoof van Gearies Infant School in Redbridge, in die ooste van Londen, het al in 2015 gesê sy leerlinge sukkel met bolyfsterkte. Hy is al 20 jaar lank skoolhoof by dié skool. Volgens hom is die probleem die afgelope twee jaar al hoe meer merkbaar. Hy het gesê te veel ouers gee vir hul kinders elektroniese toestelle om mee te speel, in plaas daarvan dat hulle rondhardloop.

Volgens Mellissa Prunty, ʼn pediatriese arbeidsterapeut en adjunkvoorsitter van die NHA, het gesê die risiko is dat ons te veel aannames maak oor waarom ʼn kind nie op die verwagte ouderdom kan skryf nie, en nie ingryp wanneer die kwessie tegnologieverwant is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Ek kan my indink watter vreeslike gevaar kunsmatige intelligensie dus vir ons kroos inhou!

Chrisjan ·

Ons sien presies dit wat in die artikel beskryf word daagliks in die laerskole. Daar’s n reuse verskil tussen ‘n buitelig-spelende kind en ‘n “hooked on electronica” kind. Elke 2de arbeidsterapie of opvoedkundige verslag wat op my tafel land, beskryf ‘n kind met lae spiertonus of n kind wat “nie kan lees nie”. Wat is die antwoord? Gaan terug na die basiese manier van kinders grootmaak: genoeg buite speel, eet genoeg goeie vette en olies (klapperolie, olyfolie, Omega) en minimum lekkergoed, slaap genoeg, lees baie vir jou kind sodat hulle die klanke en sinskonstruksies kan “inneem” en maak emosionele intelligente kinders groot – als tot hul eie voordeel.

Johan ·

Ek stem 100% saam maar, ongelukkig bly ons in omgewings waar dit so gevaarlik is om buite te speel. Waar is die dae toe kinders nog in die straat kon speel tot donker? Wat gebeur nou, die TV en elektronka word nader getrek. Tog te jammer vir kinders wat in hierdie tyd moet groot word.

E.K. die eerste ·

Daar is baie dames wat ook sukkel om pen/potlood reg vas te hou. Daai vreeslike lang naels… ; )

Andrew ·

Ek is so bly ek het in die negenti I en sewentigs grootgeword. Wonderlike tye.

Penellope Jones ·

Kleur die kinders nie meer in by die huis, kleuterskool, Graad 0 ens. nie?
Het die kinders nie meer inkleurboeke en -potlode nie?

Kobie ·

Sal graag ‘n studie wat in Suid-Afrika gedoen is, wil sien. Watter % van kinders 4 maande tot net voor Graad R word daagliks in ‘n creche versorg? Daar word geverf, klei gespeel, geswaai, gehardloop, ingekleur – met ander woorde gewone kleinkind-dinge gedoen. ‘n Dagmoeder wat haar sout werd is, sal dit ook doen. Kinders het dalk tuis toegang tot elektronika, maar by die creche en ander word hulle beslis nog blootgestel aan gewone aktiwiteite. Verf sommer met die vinger, bou sandkastele, bou blokkies en al wat lekker is. So hoekom kyk navorsing nie ‘n slag na ons SA situasie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.