Toe gʼn wêreldrekord vir grootste aartappel

Colin en Donna Craig-Brown met “Doug” die aartappel (Foto via Potato News Today)

ʼn Egpaar van Nieu-Seeland, wat geglo het hulle het die grootste aartappel ter wêreld uit hul tuin gehaal, se drome vir ʼn wêreldrekord is aan flarde.

Maroela Media het vroeër berig Colin en Donna Craig-Brown was doenig op hul kleinhoewe naby Hamilton toe hulle iets groot onder die grond raakgeskoffel het. Die aartappel is aanvanklik “Doug” gedoop, maar die egpaar verkies die spelling “Dug”. Dug het 7,9 kg geweeg – swaarder as toegelate handbagasie vir ʼn vliegtuig!

Die egpaar het gehoop dat Guinness-wêreldrekords dit sou bevestig as die grootste aartappel ter wêreld. Die vorige Guinness-wêreldrekord vir die swaarste aartappel is in 2011 opgestel deur ʼn tuinier van Nottinghamshire. Sy aartappel het 4,99 kg geweeg.

Guinness het uiteindelik aan die Craig-Browns terugvoer gegee en gesê wetenskaplike toetse het bevind hul vonds is nie ʼn aartappel nie, dit is ʼn knol kalbas.

Volgens die egpaar het dit beslis soos ʼn aartappel gelyk en geproe, alhoewel hulle nog nooit ʼn knol kalbas geproe het nie.

“Doug” die aartappel (Foto: Donna Craig-Brown via IrishNews)

“Wat kan mens sê?” het Craig-Brown reageer op die teleurstellende nuus. “Ons kan nie sê ons glo julle nie, want ons het vir hulle die DNS-inligting gegee.”

Die egpaar het verlede week die slegte nuus ontvang ná maande wat hulle foto’s en papierwerk moes indien.

Die knol het beroemdheid verwerf toe die egpaar foto’s daarvan op Facebook begin deel het met ʼn hoed op en foto’s waar Dug in ʼn waentjie rondgesleep word.

Dug word steeds in die Craig-Browns se vrieskas bewaar.

“Ek groet hom elke dag wanneer ek worsies uithaal. Hy is ʼn cool karakter,” sê Craig-Brown. “Wanneer die kleinkinders kom kuier, dan vra hulle om vir Dug te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Renier ·

Knol kalbas is n ‘tuber’, en n aartappel is n ‘tuber’.

Julius ·

Ek dink ook dan moet hulle dit die grootste tuber noem. Die mense verdien die rekkord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.