Toeoog-afspraak duur toe veel langer as verwag …

Argieffoto (Foto: golfcaddy/Pixabay)

Verbeel jou jy is op ʼn eerste afspraak wat net nie tot ʼn einde kan kom nie? Dis wat met ʼn vrou in China gebeur het wie se video-blogs wyd versprei het oor ʼn inperkingsperiode tydens ʼn toeoog-afspraak.

Meer as 100 Covid-19-gevalle is in die sentrale Chinese stad Zhengzhou aangemeld sedert verlede week. China sukkel om verskeie plaaslike uitbrekings van die Delta- en Omikron-variante onder beheer te bring.

Dele van die stad is skielik verlede week Woensdag in afsondering geplaas toe ʼn vrou aandete by ʼn man, wat sy pas ontmoet het, se huis geniet het.

“Net ná ek in Zhengzhou aangekom het, was daar ʼn uitbreking en sy gemeenskap is in afsondering geplaas. Ek kon nie huis toe gaan nie,” het die vrou, wat slegs onder haar van Wang bekend staan, Dinsdag aan The Paper gesê. Sy het die stad vir ʼn week lank besoek om voornemende pasmaats te ontmoet.

“Ek word nou al oud en my familie wou my aan 10 mans voorstel. Die vyfde man wou met sy kookvernuf spog en het my na sy huis toe genooi vir aandete.”

Wang het intussen kort video’s op sosiale media gedeel waar sy haar daaglikse lewe in afsondering dokumenteer. Sy wys hoe die man vir haar kos maak, hoe hy huistakies verrig en waar hy op sy skootrekenaar werk terwyl sy laat slaap, aldus plaaslike media.

Tot dusver het die liefde nog nie begin blom tydens hul uitgerekte afspraak nie, sê Wang. Sy is op soek na iemand wat bietjie meer gesels.

“Buiten die feit dat hy so stom is soos ʼn hout-mannekyn, is alles anders (oor hom) nogal goed,” het Wang aan The Paper gesê. “Sy kos is maar so-so, maar hy is nog steeds bereid om kos te maak, en ek dink dis wonderlik.”

Sy het nie haar ouderdom of volledige naam of die identiteit van die man in die video’s bekendgemaak nie.

Hutsmerke oor die toeoog-afspraak het teen Woensdag reeds meer as 6 miljoen trefslae gehad op Weibo – ʼn sosialemedianetwerk soortgelyk aan Twitter.

Wang sê die onlangse toename in aandag het haar genoop om eerder die video’s te verwyder. “Vriende het hom begin bel en ek dink dit het beslis ʼn impak gehad op sy lewe. Ek het besluit om dit vir nou eerder te verwyder,” het sy Dinsdag in ʼn plasing gesê wat wyd in Chinese plaaslike media gepubliseer is.

“Dankie vir almal se aandag. Ek hoop die uitbreking kom binnekort tot ʼn einde en dat my enkellopende susters ook binnekort ʼn maat sal kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

groenboer ·

Net ‘n kwessie van tyd voor dié storie as romantiese komedie verfilm word. Seker eers in China, en mettertyd ‘n Amerikaanse herverpakking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.