Toeriste moet €800 opdok vir Colosseum-biere

Argieffoto van die Colosseum (Foto: Sung Rae Kim/Pixabay)

ʼn Paar Amerikaanse toeriste wat by die Colosseum in Rome, Italië ingebreek het om ʼn bier saam met die uitsig te geniet, is ʼn yslike boete opgelê.

Die twee, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud, het Maandag met sonop na die tweede verdieping van die antieke gebou, waar swaardvegters teen mekaar moes veg, opgeklim. ʼn Inwoner, wat vroeg opgestaan het, het egter die twee gesien en die polisie ontbied.

Hulle het skuld beken dat hulle ingebreek het om ʼn bier te drink en is ʼn boete van €800 (sowat R14 000) opgelê, het ʼn woordvoerder van die polisie aan AFP gesê sonder om verdere besonderhede te verskaf.

Dis nie duidelik hoe die twee by die wêreldbekende 2 000 jaar oud struktuur ingebreek het nie. Voor die pandemie het sowat 25 000 mense daagliks dié toeristebestemming besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.