Toiletpapierkoeke baie gewild by dié bakkery

‘n Personeellid by Schürener Backparadies met die toiletpapierkoeke (Foto: Bernd Thissen/dpa via AP)

Meeste van ons het nou al op leë rakke sonder toiletpapier afgekom, en dié bakker het besluit om die draak te steek met die situasie.

Tim Kortüm se bakkery, Schürener Backparadies, in Dortmund in Duitsland, steek die draak met Hamsterkäufe (paniekkopery) en kikker klante se dag op met koeke wat soos toiletpapierrolletjies lyk.

“Ons moes talle dinge staak,” het Kortüm gesê. “Geen troukoeke meer nie, geen toebroodjies vir geleenthede nie … en dit is toe ons met die idee vir die toiletpapier vorendag gekom het.”

Dit was aanvanklik net ʼn grappie, maar die ronde koeke, bedek in wit fondant wat dit net soos ʼn toiletpapierrolletjie laat lyk, verkoop soos soetkoek. “Die eerste agt is binne ʼn paar minute verkoop,” het Kortüm verduidelik. Nou maak hulle sowat 200 “rolletjies” per dag.

Hy het 40 persone in diens en is, soos talle ander ondernemings, bekommerd oor werksverliese weens die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19). “Die koeke sal nie heeltemal ons verliese kan verreken nie, maar ten minste is my werknemers in die bakkery nou weer besig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gawie ·

Dis nou baie slim! Laat mense glimlag, en hou sy werkers aan die gang.
Ek hou van die Duitse woord vir Paniek-aankope – Hamsterkäufe – elkeen wat al ooit ‘n hamster gehad het sal verstaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.