Tronk toe oor ʼn selfie

Foto: yellowstonenps/Instagram

ʼn Amerikaanse vrou wat te naby aan ʼn grizzlybeer wou kom sodat sy ʼn foto kon neem, is vier dae lank tronk toe gestuur.

Samantha Dehring het slegs ʼn paar meter van die enorme dier en haar drie kleintjies gestaan toe sy in Meimaand in die Yellowstone- nasionale park ʼn foto wou neem.

Die 25-jarige Dehring was saam met ʼn groep toeriste toe die beer opgedaag het. Ander besoekers het teruggetree en skuiling in hul voertuie gaan soek – in opdrag van veldbewaarders, maar Dehring het nader aan die beer gestap en foto’s bly neem.

“Om ʼn grizzlyma te nader met haar kleintjies is absoluut dwaas,” het waarnemende staatsaanklaer Bob Murray in Wyoming gesê waar die grootste deel van dié groot reservaat geleë is.

“Dit is blote geluk dat Dehring hier staan as ʼn strafregtelike beskuldigde en nie ʼn verskeurde toeris nie. Die diere in Yellowstone-park is wild. Dit is nie ʼn dieretuin waar diere agter veilige heinings aanskou kan word nie. Hulle loop vrylik rond in hul natuurlike habitat. As hulle bedreig word, sal hulle daarvolgens optree.”

Parkreëls bepaal dat besoekers minstens 90 m van bere en wolwe moet wegbly.

Dehring het skuld beken en is vier dae tronkstraf opgelê met ʼn boete van $1 000 (byna R15 000).

Yellowstone was die eerste nasionale park in die VSA. Dit strek oor meer as 7 700 km² en het toeristebestemmings soos Old Faithful, ʼn yslike groot geiser.

Die park was die inspirasie vir Jellystone Park in die 1960’s tekenprent Yogi Bear met ʼn vriendelike maar permanente honger beer wat gereeld besoekers se piekniekmandjies deursoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MakersMark ·

Nou kan sy vir mamma beer in die tronksel hello sê…….

Sandra ·

Die storie laat my nou dink aan die storie hier van die tiener wat aan die rob gevat het. Ek dink nie die vrou het al gesien wat ‘n beer kan doen as sy voel haar kleintjies word bedreig nie. Sy het ook duidelik nie die rolprent The Revenant gesien nie. Vreesaanjaend.

Johan ·

Wel met daai tipe verstand weet mens ten minste sy gaan vir 4 dae darm veilig wees.

koos10 ·

Dan val die beer haar aan en word dan van kant gemaak?
Ek dink sy moet langer in die tronk sit, dat sy ‘n kursus kan doen oor wilde diere of iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.