Tronkvoël: Duif uiteindelik vry wat glo vir China spioeneer

Argieffoto (Foto: Nisha Gill / Pixabay)

ʼn Duif wat agt maande lank in aanhouding was deur die polisie in Indië, is vrygelaat ná hy onskuldig bevind is as ʼn vermoedelike Chinese spioen.

Die voël is by ʼn hawe in die finansiële hoofstad Mumbai gevind met “boodskappe in ʼn Chinese-tipe skrif” op sy vlerke, het die Times of India-koerant berig.

“Die polisie het aanvanklik ʼn saak van spioenasie teen die voël aanhangig gemaak, maar ná hul ondersoek, het hulle die klag laat vaar,” lui die berig.

Die voël is onder slot en grendel gehou by ʼn stadshospitaal terwyl die polisie se ondersoek voortgeduur het.

Dié ondersoek het “ʼn verstommende agt maande lank geduur” het die diereregte-organisasie People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Peta se tak in Indië sê die polisie het Woensdag “formele toestemming aan die hospitaal verleen om die duif vry te laat”.

Plaaslike media berig die voël het in goeie gesondheid weggevlieg.

Dié duif is die jongste van verskeie wat deur Indiese owerhede aangehou is op aanklag dat hulle van spioenasie verdink word. Grensveiligheidsbeamptes het in 2016 ʼn duif in aanhouding geplaas ná hy ʼn boodskap met dreigemente aan eerste minister Narendra Modi by hom gehad het. Dié duif is naby Indië se grens met Pakistan gevind.

Nóg ʼn duif is in 2010 deur gewapende wagte aangehou toe hy in dieselfde streek opgespoor is met ʼn ring om sy poot en ʼn Pakistanse telefoonnommer en adres wat in rooi ink op sy lyf gedruk is. Beamptes in dié geval het opdrag gegee dat niemand toegelaat moet word om die duif te besoek nie. Die polisie het gesê die duif is moontlik “op ʼn spesiale spioenasiesending”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.