Twee vlieëniers wil in die lug vliegtuie ruil

Die vlieëniers oefen en voer ʼn toetsvlug uit in San Luis Obispo (Foto: Michael Clark/Red Bull Content Pool)

Twee neefs in Kalifornië sal Sondag een van die gevaarlikste toertjies onderneem – om in die lug vliegtuie te ruil.

Luke Aikens en Andy Farrington, vlieëniers en vryvallers, sal vir die eerste keer in die geskiedenis vliegtuie in die lug ruil. Die vliegtuie sal naby aan mekaar vlieg en hulle sal dan poog om uit te klim, beheer oor te neem van die ander vliegtuig en verder vlieg.

Albei neefs is deel van die Red Bull-lugmagspan en het op 6 Maart ʼn toetsvlug in Kalifornië in die VSA onderneem.

Die toertjie sal Sondag regstreeks op Red Bull TV uitgesaai word waar die twee in twee Cessna 182-enkelsitplekvliegtuie sal opstyg tot ʼn hoogte van 14 000 voet. Die hele proses om mekaar se vliegtuie oor te neem, is nogal ingewikkeld. Dit beteken hulle sal by die ander vliegtuig moet uitkom, by die stuurkajuit moet inklim, die lugremstelsel moet ontkoppel, die enjin weer aan die gang moet kry en uiteindelik beheer neem oor die vliegtuig.

Die neefs het vantevore ook waaghalsige toertjies onderneem. Luke het die wêreldrekord ingepalm om 25 000 voet sonder ʼn valskerm te vryval – en te oorleef toe hy in ʼn 30 m x 30 m-net geval het. Dit is slegs een van drie wêreldrekords wat hy agter sy naam kan skryf. Andy het al meer as 27 000 valskermspronge en 1 000 GABA-spronge (“BASE jumps”) onderneem en het meer as 6 000 uur as ʼn vlieënier aangeteken, aldus Red Bull.

Die Red Bull-lugmag, volgens hulle webwerf, is ʼn span van die beste en mees ervare lugvaartkenners ter wêreld. Hulle spesialiseer in hoogs gekoördineerde lugsprongdemonstrasies en poog die uiterste in menslike vlug.

Jy kan op 24 April om 16:00 PT (Maandagoggend om 01:00 Suid-Afrikaanse tyd) die regstreekse uitsending hier sien: https://www.redbull.com/int-en/events/plane-swap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.