Van eende wat praat tot skrikwekkende croissants: 2021 se vreemdste nuus

Argieffoto (Foto: Bruno /Germany/Pixabay)

Wat ʼn jaar! Ons is wêreldwyd geteister deur Covid-19, brande en oorstromings, maar daar was ook ʼn paar vreemde nuusbrokkies wat ons laat skater of die wenkbroue gelig het. Hier is ʼn keur van AFP se nuusbrokkies:

  • ʼn Hond se lewe

ʼn Vrou in Quebec het die polisie verras toe sy met haar man aan ʼn leiband gaan stap het tydens inperkingsregulasies. Sy het volgehou sy “het met haar hond gaan stap” – wat onder die riglyne toegelaat is. Klik hier om meer te lees.

  • Kindergeboorte is geen verskoning nie

Suid-Koreaanse beamptes het ʼn swanger vroue daaraan herinner om genoeg gestrykte hemde, sokkies, onderklere en bevrore etes gereed te hou vir wanneer hulle hospitaal toe gaan om geboorte te skenk.

  • Geheime agente

Agente van die Amerikaanse geheime diens wat Ivanka Trump en haar man Jared Kushner beskerm, kon net só lank knyp … Ivanka en haar miljoenêr-man het glo geweier dat agente enige van die 6,5 badkamers in hul woning in Washington gebruik. Dit is onthul net ʼn paar dae voor haar pa die Withuis in Januarie verlaat het. Hulle moes onder andere die badkamer by Barack en Michelle Obama se nabygeleë huis gebruik.

  • Doodgelukkig

ʼn Man van Indië wat dood verklaar is ná ʼn motorfietsongeluk, het op die outopsietafel begin beweeg net toe dokters hom wou oopsny.

  • Hou net op met praat

Yoshiro Mori het in Februarie as hoof van die Olimpiese Spele bedank ná die voormalige premier verklaar het die probleem met vroue is … hulle praat te veel. Mori het later om verskoning gevra en gesê: “Ek praat nie baie met vroue nie.”

  • Ons kan jou sien …

Die hele raad van ʼn laerskool in Kalifornië het bedank ná hulle betrap is dat hulle na ouers verwys as “dagga-rokende luiaards” op ʼn Zoom-oproep.

  • Al die Vissers

Taiwan het sy burgers gevra om op te hou om hul name te verander ná talle hul name verander het na iets soos “Salm Prins” of “Salm Gebraaide Rys” om voordeel te trek uit ʼn sushi-restaurantketting se aanbod vir mense wie se naam die Chinese karakters vir “vis” bevat.

  • Poetsbakker

Die Amerikaanse eerste vrou Jill Biden, ʼn berugte poetsbakker wat vantevore in die bagasieruim van Air Force Two weggekruip het toe haar man nog adjunkpresident was, het haarself as ʼn lugwaardin vermom om op Air Force One roomys uit te deel aan verslaggewers op April Gekkedag.

  • Gedra jul soos dames

Mev. Wêreld is in hegtenis geneem toe sy die kroon van haar opvolger se kop, Mev. Sri Lanka, afgepluk en die spieël in haar aantrekkamer gebreek het ná die seremonie in Colombo ʼn vreemde wending geneem het. Klik hier om meer te lees.

  • Angswekkende gebak

ʼn “Dier wat gevaarlik lyk” en in ʼn boom opgemerk is, het angs veroorsaak in ʼn stil straat in Krakow, Pole. Dit was uiteindelik egter net ʼn croissant wat deur die wind in die boom vasgewaai het.

Z cyklu "Z pamiętnika inspektora" – relacjonuje inspektor Adam.- Przyjedźcie i go zabierzcie! – w głosie dzwoniącej…

Posted by KTOZ Krakowskie Towarzystwo Opieki nad Zwierzętami on Tuesday, April 13, 2021

  • Bitche-probleme

Die Franse dorp Bitche se Facebook-blad is verwyder ná die Amerikaanse tegnologiereus se moderators gedink het dit is ʼn belediging.

  • Vier troues

ʼn Bankklerk van Taiwan het vier keer in een maand getrou sodat hy die meeste kon put uit die land se statutêre bepaling van agt dae betaalde verlof vir pasgetroudes.

  • Eende wat kan praat

Wetenskaplikes is in September stomgeslaan oor nuus dat eende kan praat – en hulle is baie goeie namakers! Bioloë sê hulle kan, soos papegaaie, mense se spraak namaak en selfs die klank van ʼn deur wat toemaak, namaak.

  • Sluk moeilik aan dié storie

ʼn Chirurg van Kosovo, Skender Telaku, het ʼn selfoon uit ʼn gevangene se maag gehaal sonder om hom oop te sny ná hy dit gesluk het om dit van bewaarders weg te steek. Die foon het gelukkig nie tydens die delikate prosedure begin lui nie.

  • Kuns wat verdwyn

ʼn Deense kunstenaar wat $84 000 ontvang het om kunswerk uit banknote te maak, het die kontant in sy sak gesteek en vir die galery twee leë skilderdoeke teruggestuur genaamd: “Vat die geld en hardloop”.

  • Sluit my asseblief toe

ʼn Man, onder huisarres in Italië oor dwelmoortredings, het by die polisie gepleit om hom toe te sluit omdat hy dit nie meer by die huis kon uithou met sy vrou nie. Die polisie het die 30-jarige man van Albanië se dag gemaak en hom in die tjoekie gegooi. Klik hier om meer te lees.

  • ʼn Hond se selfoon

Wetenskaplikes in Skotland het die DogPhone ontwerp – wat verveelde honde in staat stel om hul eienaars te kontak wanneer hulle ook al wil. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Lekker het ek nou gelag. Darem paar verregaande stories en ons het sowaar ‘n dolle en deurmekaar jaar agter die rug….. amper ja en ons kan dalk nog paar verrassings verwag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.