Vasgekeer oor regulasies; nou is hulle verloof

Argieffoto (Foto: bookwurmee/{Pixabay)

ʼn Paartjie wie se toeoog-afspraak nie tot ʼn einde kon kom nie weens onverwagse inperkingsregulasies, is nou verloof.

Maroela Media het vroeër berig die vrou se video-blogs oor haar daaglikse lewe in afsondering, word wyd versprei. Dele van die sentrale Chinese stad Zhengzhou is skielik in afsondering geplaas toe ʼn vrou aandete by ʼn man, wat sy pas ontmoet het, se huis geniet het.

“Net ná ek in Zhengzhou aangekom het, was daar ʼn uitbreking en sy gemeenskap is in afsondering geplaas. Ek kon nie huis toe gaan nie,” het die vrou, wat in daardie stadium slegs as “Wang” bekendgestaan het, aan The Paper gesê. Sy het die stad vir ʼn week lank besoek om voornemende pasmaats te ontmoet. Haar familie wou haar aan 10 mans voorstel. “Die vyfde man wou met sy kookvernuf spog en het my na sy huis toe genooi vir aandete.”

Die paartjie het nou bevind dit was liefde en nie die koronavirus nie, wat hulle bymekaar laat kom het, en hulle gaan nou trou aan mekaar beloof.

Die vrou is intussen uitgeken as Zhao Xiaoqing, ʼn 28-jarige van Shaanxi, in die noorde van China. Sy was onder die indruk dat sy slegs ʼn dag lank by die man sou kuier om ook sy familie te leer ken. Jong Chinese in kleiner stede en landelike gemeenskappe maak gewoonlik staat op familie en vriende om moontlike pasmaats aan hulle voor te stel en hulle ontmoet dan terselfdertyd sommer ook die res van die familie.

“Ek het nooit gedink ek sou die aand oorbly nie, want dis bietjie vreemd,” het Zhao Maandag aan Jimu News gesê. Owerhede in Xianyang het egter skielik inperkingsregulasies ingestel en sy kon nie huis toe keer nie.

Die man se ouers het die paartjie aangemoedig om verloof te raak ná hulle net ʼn week lank saam was, maar Zhao het gesê sy het gevoel dit is te vinnig. Sy was ook nie “te geïnteresseerd” toe sy vir die eerste keer ʼn foto van die man, Zhao Fei, gesien het nie, maar het later gedink hy lyk beter in die werklike lewe.

Ondanks die ongemaklike begin het die paartjie gevoelens vir mekaar ontwikkel en het nou verloof geraak.

“Ons kom baie goed oor die weg,” sê Zhao, ʼn aanlyn appelverkoper. “Ek moet appels regstreeks aanlyn van sy huis af verkoop, maar dit maak nie saak hoe laat dit is nie – hy is altyd aan my sy. Dit het my hart geraak. Ons siele is versoenbaar, ons kom goed klaar, en ons ouers is almal gelukkig.”

Die storie het aanlyn gehore se verbeelding aangegryp. Sommige is dol oor dit wat die noodlot vir hulle beplan het, maar ander waarsku teen oorhaastige besluite. “Pasop dat julle nie ná ʼn jaar of twee moeg word vir mekaar nie. Ek sien te veel van hierdie kitstroues,” sê een persoon.

“Meisie, dink baie mooi hieroor na,” waarsku ʼn ander.

Zhao se storie het wyd op sosiale media in China versprei ná die twee vir ʼn week lank tydens die toeoog-afspraak vasgekeer is. Sy het vroeër gesê sy is op soek na iemand wat bietjie meer gesels. “Buiten die feit dat hy so stom is soos ʼn hout-mannekyn, is alles anders (oor hom) nogal goed,” het sy in daardie stadium aan The Paper gesê. “Sy kos is maar so-so, maar hy is nog steeds bereid om kos te maak, en ek dink dis wonderlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.