Veels geluk, Barbie!

Foto: Barbie/Facebook

Die ikoniese langbeenpop Barbie het op 9 Maart haar 60ste verjaarsdag gevier. Sy het tot dusver meer as 200 loopbane in haar leeftyd gehad, maar het onlangs eers in die wetenskap- en tegnologiebedryf betrokke geraak. Die 2019-versameling sluit in loopbane soos pole-marienebioloog, entomoloog en astrofisikus.

Barbie het verlede jaar robot-ingenieur gespeel, so ewe toegerus met ʼn veiligheidsbril, ʼn skootrekenaar met rekenaarkode op die skerm en natuurlik ʼn klein robot-bykomstigheid.

Mattel, die speelgoedmaatskappy wat Barbie sedert 1959 vervaardig, het intussen ook ʼn Tynker.com-program bekendgestel waar kinders basiese programmeringskonsepte kan aanleer.

In die 1960’s was Barbie ʼn ruimtevaarder voor die eerste maanlanding; in die 1970’s het sy ʼn goue medalje gewen as Olimpiese skiër; in die 1980’s was sy ʼn rockster en in die 1990’s het sy in verskillende weermagafdelings gedien, sy was ʼn professionele sportster, sy het die amp van uitvoerende hoof beklee en boonop naam gemaak as kletsrymkunstenaar.

Barbie het haarself al ʼn paar keer beskikbaar gestel tydens die presidensiële verkiesingsveldtog, was vir ʼn kort rukkie ʼn realiteitstelevisiester en die afgelope dekade was sy ʼn rekenaarprogrammeerder, videospeletjieontwikkelaar, wetenskaplike, paleontoloog en sy is selfs Mars toe.

Die Amerikaanse sakevrou Ruth Handler het die pop geskep, en het ‘n Duitse pop genaamd Bild Lilli as haar inspirasie gebruik. Mattel het reeds meer as 1 miljard van dié poppe verkoop en dit bly die maatskappy se grootste en mees winsgewende produk. Verkope het egter sedert 2014 skerp gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ooghare ·

Verpleegster Barbie kort bietjie microblading vir die ooghare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.