Verkeersbeamptes krap kop oor bestuurderlose motor

Skermgreep uit die video

Verkeersbeamptes in San Francisco het onlangs kopgekrap oor ʼn motor wat nie bestuurder of passasier gehad het nie.

ʼn Video wat op Instagram en Twitter gedeel is, het opslae gemaak. Die beampte sê vir sy kollega: “Daar is niemand binne-in nie.”

Die Cruise-motor, sonder ʼn stuurwiel, is voorgekeer omdat dit in die aand sonder ligte gery het. Die Cruise se gedigitaliseerde stelsel het egter bepaal dat dit voorgekeer is omdat hy die verkeerde spoed gehandhaaf het.

Terwyl die beampte verward na die motor kyk en terugstap om met sy kollega te praat, trek die motor weg en ry deur nog ʼn kruising voor dit weer stilhou.

Cruise het in ʼn verklaring gesê dat die kwessie oor die ligte die resultaat van ʼn menslike fout was en geen boete is uitgereik nie. Cruise het bygevoeg die beamptes kon suksesvol op die toneel met die maatskappy kontak maak.

Cruise het ook benadruk dat die motor nie van die toneel wou wegjaag nie, dit het bloot ʼn veiliger plek gesoek om stil te hou.

Die maatskappy, wat in 2013 sy deure oopgemaak het, het ten doel om die bestuurderlose motors uiteindelik wêreldwyd vry te stel. Die motors kan veral doeltreffend wees as taxi’s. Die motors, teen ʼn waarde van ongeveer $50 000 (sowat R730 000) elk, het in 2017 begin om die motors op openbare paaie in San Francisco, Scottsdale, Arizona en Detroit te toets. Die maatskappy het vanjaar San Francisco se goedkeuring ontvang om bestuurderlose taxi’s in dele van die stad te toets.

Die maatskappy het bygevoeg dat hy baie nou saam met die SFPD werk oor hoe om interaksie te hê met die motors, insluitend ʼn toegewyde telefoonnommer wat beamptes in situasies soos dié kan gebruik. ʼn YouTube-video is ook gedeel met besonderhede hoe polisiebeamptes die Cruise-motors moet hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos ·

As dit in SA was, sou dit ‘n match made in heaven gewees het. Motor sonder bestuurder en spietkop sonder breins.

Sandra ·

Soos die advertensie van tegnologie se “what could go wrong?”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.