Verkeersboete: Hoe ryker, hoe duurder

Argieffoto (Foto: freestocks-photos/Pixabay)

ʼn Ryk sakeman is ʼn boete van €121 000 (sowat R2,4 miljoen) opgelê nadat hy in Finland die spoedgrens oorskry het.

Verkeersboetes in dié land word bereken volgens die oortreder se inkomste, berig Euro News.

“Ek is baie jammer oor die saak,” het Anders Wiklöf aan die hoofkoerant in Åland, ʼn outonome provinsie en gebied van Finland, gesê. Hy voeg by hy hoop die geld sal vir ‘n goeie doel aangewend word.

Volgens die polisie het hy 82 km/h in ʼn 50 km/h-sone gery toe die polisie hom Saterdag voorgekeer het. Buiten die boete is sy rybewys ook vir 10 dae opgeskort, berig die Nya Åland-koerant.

Dit is nie die eerste keer dat Wiklöf te vinnig ry nie. In 2018 is hy ʼn boete van €63 680 (R1,3 miljoen) opgelê en vyf jaar tevore het hy €95 000 (R1,9 miljoen) betaal.

Wiklöf is ʼn boorling van Åland en voorsitter van ʼn houermaatskappy wat besighede in logistiek, helikopterdienste, eiendom, en die handel- en toerismebedryf insluit.

Åland is ʼn argipel in die Oossee tussen Turku aan Finland se weskus en Swede se hoofstad Stockholm.

Fasta Åland word in die weste geskei van die kus van Swede deur veertig kilometer oopsee. In die ooste is die Åland-argipel so te sê aaneenlopend met die Finse Argipelsee. Åland se enigste landgrens is kort met ‘n vreemde vorm; dit is geleë op die onbewoonde eiland Märket, wat met Swede gedeel word. Die grens is in 1985 opnuut onderhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Laksman ·

haha….hulle moet dit by ons toepas…….dan sal die owerhede my moet betaal vir elke oortreding wat ek begaan lol

Harley Davidson ·

In dié piesang republiek is ‘n boete van ‘n coke tot R 200.00 vir ernstige misdaad.

MARELIZE ·

Dan maar ‘n skikkingsooreenkoms met die regering: Ek ry die spoed wat ek wil en betaal die regering maandeliks R1milj

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.