Verlore ring 47 jaar later teruggekry

Debra Mckenna en die verlore ring (13 Februarie 2020) (Foto; Troy R. Bennett | BDN)

ʼn Vrou is met ʼn ring verenig wat sy 47 jaar gelede verloor het. Haar oorlede man het dié ring oorspronklik vir haar gegee.

Debra McKenna was in 1973 ʼn tiener toe sy per ongeluk haar aanstaande man se ring in ʼn winkel in Brunswick Maine in die VSA verloor het. ʼn Man het nou, 47 jaar later, in ʼn woud in Finland op die ring afgekom!

Debra (nou 63 jaar oud) het die ring in Portland verloor toe sy ʼn skolier aan Morse High School was, berig die Bangor Daily News. Die ring het ʼn graveermerk op wat die skool uitken en die datum 1973. Die ring het oorspronklik aan Debra se oorlede man Shawn behoort. Die twee was deur hoërskool en kollege ʼn paartjie. Hulle was 40 jaar lank getroud tot Shawn in 2017 sy stryd teen kanker verloor het.

Shawn het die ring vir Debra gegee voor hy weg is kollege toe, maar sy het dit per ongeluk in ʼn winkel verloor. Sy het gesê sy het grootliks van die ring vergeet totdat ʼn werker dit ongeveer 20 cm onder die grond in Kaarina, ʼn klein dorpie in die suidweste van Finland, opgespoor het.

Die media in Finland berig Marko Saarinen het ʼn metaalopspoorder gebruik toe hy op die ring afgekom het. “Ek kry gewoonlik net botteldoppies of ander gemors,” het Saarinen aan die media gesê.

Hy het die skool se alumni-vereniging deur Facebook gekontak en hulle kon maklik die eienaar opspoor danksy die datum op die ring en die voorletters “S.M.”.

Debra het gehuil toe die ring verlede week by haar huis in Brunswick opgedaag het. “Dit roer mens se hart dat daar, in hierdie wêreld vol negatiwiteit, nog steeds ordentlike mense is wat ʼn poging aanwend. Daar is goeie mense in die wêreld, en ons kort nog van hulle.”

Sy het nie ʼn idee hoe die ring in Finland opgeëindig het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

antieke antie ·

wow …as daai ring sy reis kon vertel… miskien was dit maar gevat terwyl sy nie gekyk het nie en is saam met die ander eienaar op reis

Banie ·

Dit is absoluut ‘n Gods Wonderwerk dat haar ring teruggevind is. As iets verlore raak, vertrou maar op die Here om dit terug te vind.

Foefie ·

Ek sit sommer en grens. Dis die mooiste storie wat ek in ‘n lang tyd gelees het.

Leon ·

Dit lyk of ‘n oneerlike persoon dit opgetel het en toe Finland toe getrek het of daar gaan kuier het endit daar verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.