Vermiste rubbereendjie ná 18 jaar gevind

(Foto: Marion Miller Jewellery/Facebook)

ʼn Rubbereendjie, wat byna 18 jaar gelede in Ierland tydens ʼn wêreldrekordpoging verdwyn het, is 644 km daarvandaan deur ʼn tiener gevind, het die New York Post berig.

Die eendjie was deel van 150 000 geel eendjies wat in Junie 2006 in die Liffeyrivier in Dublin vrygelaat is as deel van die liefdadigheidsorganisasie World Duck Race. Die eendjies moes een kilometer stroomaf in die rivier en onderdeur vyf brûe dryf.

Verskeie eendjies het egter in die see beland, ondanks pogings deur die organiseerders om dit te voorkom.

Een van dié eendjies is nou op Stronsay, deel van die Orkney-eilandgroep in Skotland, gevind deur die 13-jarige Filip Miller. Hy het die speelding huis toe gevat en sy ma Marion het die teks op die eendjie opgemerk.

“Die springgety was onlangs baie hoog,” het Marion aan die Post gesê. “Hy het met die honde gaan stap. Hy het allerhande voorwerpe op die strand opgetel en toe op die rubbereendjie afgekom.”

Die eendjie is steeds in ʼn relatief goeie toestand, ondanks soveel jaar in die see.

Filip Miller met sy vonds (Foto: Marion Miller Jewellery/Facebook)

“Ek het die teks op die eendjie gesien en World Record Duck Race Ireland 2006 gegoogle.”

Elkeen van die eende in die wedren is geborg. Die eerste een wat onderdeur elk van die vyf brûe gedryf het, is as die wenner aangewys en die wenner se borg het ʼn reis na die VSA gewen.

Ander eende uit die wedren is in Morecambe, Engeland en die Eiland Wight, ʼn Kanaaleiland, gevind. Een van die eende is selfs in Swede opgemerk.

Volgens die Ierse nuusdiens RTÉ News, was die wêreldrekordpoging in 2006 onsuksesvol, maar geld is ingesamel vir die Our Lady-kinderhospitaal in Crumlin.

Die jongste soortgelyke wêreldrekordpoging is in 2009 aangepak met 205 000 eende wat in die Teems afgedryf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Omtrent goeie gehalte eendjies wat gemaak is. Dink net as daai eendjie kon vertel wat hy alles beleef en gesien het in die 18 jaar…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.