Video: 19-jarige sing tydens breinoperasie

Kira Iaconetti ná die operasie (Foto via Seattle Children’s Hospital)

ʼn 19-jarige musikant het tydens haar breinoperasie gesing sodat dokters seker kon maak hulle beskerm haar talent.

Kira Iaconetti wou nog altyd ʼn loopbaan in musiekteater volg, maar toe dokters haar met epilepsie diagnoseer weens ʼn gewas wat op haar ouditiewe korteks druk, was sy bekommerd dat sy nooit weer sou kon sing nie.

“Dit het gevoel soos ʼn skakelaar in my brein en skielik was ek toondoof. Ek kon nie sing of die woorde met die musiek prosesseer nie,” het dié tiener van Lynden, Washington, verduidelik. Sy sing al sedert sy ses jaar oud is en sukkel al die afgelope vier jaar om noot te hou.

Kira Iaconetti tydens een van haar opvoerings voor die operasie (Foto via Seattle Children’s Hospital)

Toe dokters by die Seattle-kinderhospitaal besluit om te opereer, wou hulle seker maak dat hulle nie haar drome verwoes nie. Die neuroloog het haar tydens die operasie wakker gemaak en sy het tydens die operasie begin sing, terwyl hulle dié dele in haar brein geïdentifiseer het wat hulle moet vermy, terwyl hulle die gewas verwyder.

“Ons fokus was nie net om die gewas te verwyder nie, maar om seker te maak ons maak haar lewe beter en beskerm dit waarvoor sy so lief is,” het Jason Hauptman, ʼn pediatriese neurochirurg, gesê.

Hy het gesê dokters het op die gewas afgekom weens die ongewone tipe epilepsie waarmee Kira gediagnoseer is. “Haar aanvalle is juis veroorsaak wanneer sy na musiek geluister of gesing het.”

Kira reken dit was ʼn “baie wrede grap”.

Die foto links wys hoe die gewas op haar brein druk; die geel en rooi in die foto aan die regterkant wys watter dele van haar brein geaktiveer word wanneer sy sing (Foto via Seattle Children’s Hospital)

Watter liedjie het sy tydens die operasie gesing? Weezer se Island In The Sun, natuurlik:
On an island in the sun
We’ll be playing and having fun
And it makes me feel so fine
I can’t control my brain

Kira het gesê sy het spesiaal dié liedjie gekies omdat dit haar aan haar familie en haar geboorteplek, Hawaii, laat dink.

Ongeveer 48 uur ná die operasie het Kira op haar hospitaalbed gesit en gesing en kitaar gespeel.

Lees meer: Seattle Children’s Hospital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wow ·

as ‘n Dowe persoon kry ek sommer trane @ moderne wetenskap wat ook uit is daarop om te help, en iemand se gawes te beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.