Kosie Beukes (8) van Boksburg het ʼn groot liefde en talent vir musiek. Dié jong knaap kan ʼn verskeidenheid van instrumente speel en word ook beskou as die jongste konsertinaspeler in Suid-Afrika. Kosie en sy oupa, Kobus, het by Maroela Media kom kuier.
“Die mense wat sê ek kan tien instrumente speel, jok vir tannie,” skerts hy. “Ek kan 14 instrumente speel: kitaar, baskitaar, Hawaiiese kitaar, konsertina, trekklavier, klavier, orrel, mondfluitjie, klawerbord, tromme, vrot-orrel, boere-konsertina, mandolien en die banjo.”
Kosie het op vierjarige ouderdom vir die eerste keer ʼn instrument in sy hande gehou en hy meen dit was ʼn klein bokskitaartjie wat sy liefde vir musiek aangewakker het. “As my pa trekklavier gespeel het, het ek met my kitaar saam gespeel, en dis waar ek agtergekom het dis nou tyd dat ek musiek moet begin speel.”
Kosie is nie op sy bek geval nie en sê niemand het hom geleer nie – hy het sommer homself geleer. “Dis maar net ʼn talent wat die Here vir my gegee het sodat ek myself kan leer.” Dié agtjarige sê hy speel wanneer hy ʼn geleentheid kry, maar veral by die Boeremusiekgilde en op feeste. Kosie se gunsteling-genre om te speel is boeremusiek, gospel en country.
Willie Mynhardt, nasionale voorsitter van die Boeremusiekgilde, sê hy ken Kosie goed. “Hy speel al van ʼn baie jong ouderdom die konsertina. As daar ʼn jonger konsertinaspeler in Suid-Afrika is, weet ons nie van hom nie.”
ʼn Mens kan sien Kosie is lief vir musiek en musiekmaak. “Dis vir my baie lekker. As ek musiek maak laat dit die mense dans en dis wat dit so lekker maak – dit laat my lag.”
Kosie het vanjaar aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste deelgeneem en met vier goue medaljes weggestap. Hy gaan ook binnekort in die VSA aan ʼn kompetisie deelneem en sê hy sal weer by Maroela Media om kuier wanneer hy dié kompetisie gewen het….
Ag jy is darem maar te ougat!
WOW!!!! Ek is …. oor 25 en kan nie eens 1 instrument speel nie. Dit wil gedoen word boet.
Ougat….
Baie geluk! Net n regstelling, Manie Erasmus is tot op hede die jongste konsertina speler in SA. Hy was 7 jaar oud toe hy sy eerste langspeelplaat uitgereik het, Mossie maar Man!
Lyk heel oulik.
Gawe van bo af
Skote petoors, Kosie! Ai, as ons Afrikaner-leiers tog maar so met 14 of meer groepe of instansies oor die weg kon kom tot groter Volksharmonie …
Ek het hom al gesien speel – hy is baie oulik en stertke met jou kompetisie oorsee – ons almal hou vir jou duimvas.
My maggies bulletjie jy het ‘n gawe! Mag jy dit baie ver bring en talle harte verbly.