Video: Brrrr! SA’ner swem te lekker in Rusland se ysgat

Jaco van Niekerk (skermgreep uit die video)

Volgens Jaco van Niekerk, oorspronklik van Pierre van Ryneveld in Centurion, is daar een seker manier om van verkoues en ander siektes in die ysige Rusland ontslae te raak – om in die ysgate te swem!

Jaco is met ʼn Russiese meisie, Dasja, getroud. Hulle het mekaar nege jaar gelede op ʼn kibboets in Israel ontmoet en is nou al byna vier jaar getroud en het twee kinders, ʼn dogtertjie en ʼn seuntjie.

Jaco en Dasja het agt maande gelede na Tsjeboksari, in die Tsjoewasj-republiek van Rusland verhuis – dit is ongeveer 650 km oos van Moskou. Hulle bied privaat Engelse klasse aan terwyl Jaco probeer om burgerskap te kry. Tans het hy net ʼn tydelikeverblyfpermit.

“Ons sal maar sien of ons permanent hier gaan vestig, want ons albei mis Suid-Afrika vreeslik!” verduidelik Jaco aan Maroela Media. Hulle het vir die eerste drie jaar van hul huwelik in Suid-Afrika gewoon. “Dasja praat nou al redelik goed Afrikaans!”

Jaco se ouers en broer Paul woon steeds in Pierre van Ryneveld en het onlangs drie weke lank by die egpaar in Rusland gaan kuier. “Ek het hulle almal oorreed om ook in die ysgat te klim – en op dié video het my broer baie lank uitgehou!”

Jaco verduidelik in die video dat hy aanvanklik gereeld siek geword en griep gekry het in Rusland, vermoedelik weens die koue buite en dan die hitte binnenshuis. Hy het begin navorsing doen om uit te vind wat hy moet doen om te voorkom dat hy so gereeld siek word. Een oplossing was om gereeld onder koue water te stort, maar die meer ernstige oplossing is om in die ysgate te klim en hy het by ʼn ysgatswemklub aangesluit. “Vandat ek dit begin doen het, was ek heeltemal gesond,” voeg Jaco by. Hy het ongeveer ʼn maand gelede begin om in die ysgate te swem, en was sedertdien nog nie weer siek nie.

Dit was -6°C die dag wat hulle die video verfilm het en Paul is dapper genoeg om die ysige koue en water saam met Jaco aan te durf.

“Ek het persoonlik nog nie self ander Suid-Afrikaners ontmoet wat ook in die ysgat swem nie,” vertel Jaco. “Toe die mense van die klub egter hoor waar ek oorspronklik vandaan kom, het hulle my vertel daar is baie Suid-Afrikaners wat dit doen. Ek het eers gedink hulle is deurmekaar met ʼn ander land, maar toe ek op die internet gaan oplees, het ek gesien daar is inderdaad ʼn hele paar ouens van Suid-Afrika wat dit doen en selfs ʼn kilometer in water van 4°C of kouer swem! Veral ʼn man met die naam Ram Barkai, ʼn Israeli/Suid-Afrikaner, is baie bekend vir sy uithouvermoë in koue water.”

Jaco meen die koue water verbeter ook sy gemoedstoestand. “Ek verstaan nie presies die wetenskap agter dit alles nie, maar vandat ek dit begin doen het word ek net eenvoudig nie siek nie, waar ek voorheen baie siek geword het in Rusland. Meeste mense in die klub doen dit ook om gesond te bly. Ek was ook baie depressief as gevolg van die weer – ek is maar lief vir sonskyn en braaivleis en die bewolktheid het my begin onderkry. Die swem in die ysgat laat mens ongelooflik goed voel!”

Jaco en Paul vryf ook ná die ysgat van die sneeu op hul lyf. Volgens Jaco voel dit soos kole vuur op mens se lyf en hulle sal eers begin bewe van die koue sodra hulle warm klere aangetrek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ben Niemand ·

Natuurlik moet alles afgelsuit word met ‘n ruim sopie Russiese Vodka!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.