Video: Chameleon in skreeusnaakse Buffelsfontein-advertensies

‘n Skermskoot uit die video

Buffelsfontein-brandewyn is ʼn pleister vir leed, ʼn koue lappie op ʼn koorsige voorkop, en ouma se lamsboud in die oond. En boonop sal dit selfs die seer van ʼn onbeantwoorde liefdesbrief lawe. Só sê die manne van Buffelsfontein.

Sosialemediagebruikers is gaande oor dié manne se twee advertensies om hul jongste produk te bemark.

In dié advertensies, in egte Buffelsfontein-styl, tree die akteur en sanger Chris Chameleon teenoor Meyer le Roux, ʼn stigter van Buffelsfontein-baardolie, in twee afsonderlike situasies teenoor mekaar op: In die eerste advertensie herrys Le Roux as’t ware uit die dood vir ʼn laaste knertsie en in die tweede advertensie verander ʼn enkele teug aan dié brandewyn vir Chameleon van ʼn Engelsman na ʼn stoere Afrikaner.

“Ons het verwag die ontvangs daarvan gaan positief en groot wees,” vertel Le Roux Vrydag aan Maroela Media. “Maar niks kon voorspel dat dit só groot sal wees soos dit wel is nie. Ons is vyf mense wat konstant e-posse en boodskappe en kommentare beantwoord. Ons is geweldig dankbaar vir die ondersteuning.”

Die manne van Buffelsfontein-baardolie wik en weeg nou al vir “so twee jaar lank” om hul eie brandewyn te maak. Maar dit moes ʼn régte brandewyn wees, sê Le Roux, nie sommer ʼn gegeurde watertjie nie. “Halewood Suid-Afrika het ons so ʼn tydjie gelede genader en gevra of ons nie ʼn projek saam met hulle wil aanpak nie,” sê hy. “Ons het gedink dis die ideale geleentheid om die brandewyn-idee te laat bewaarheid aangesien hulle ook die kapasiteit het om dit te versprei.”

Oor dié drankie sê hy: “Die brandewyn lawe die seer van duur diesel en ʼn lammer wat in jou suiping verdrink. Dis reën op ʼn sinkdak, die reuk van buskruit uit ʼn slot-aksie en ʼn land vol mielieplante wat gelyk deur die grond breek. Dis gemaklike vellies, geelvetbiltong en damswem in Desember. Dit rank deur jou binneste soos ʼn DJ Opperman-gedig en die hoendervleis as jy daai plastiek van ʼn splinternuwe trekker se sitplek trek.”

Mense met droë kele kan reeds hul eie Buffelsfontein-brandewyn bestel op Buffelsfontein se amptelike webwerf. Vir meer inligting besoek ook hul Facebook-blad.

Posted by Elzilda Becker on Wednesday, June 20, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vannaand nog ·

Dit gaan sommer by vannaand se braai nog uitgeprobeer word.

Boy van die Suburbs ·

Net so! Daar is altyd tyd vir ‘n laaste enetjie! Cheers!

JSG ·

Baie oorspronklike Afrikaanse advertensies. Dankie julle rowwe manne. ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.