Video: Die dorp waar byna almal in een gebou bly

Begich Towers (Foto: Jessica Spengler, oorspronklik op Flickr gedeel as Whittier, Alaska via Wikimedia Commons)

Die TikTok-gebruiker Messy.nessy se video’s wat sy van haar dorp deel, waar 95% van die inwoners in ʼn enkele woonstelblok bly, is baie gewild op sosiale media.

Sy verduidelik byna die hele bevolking van Whittier in Alaska in die VSA bly in dieselfde gebou, wat as die Begich Towers bekendstaan. Die poskantoor, skool, gesondheidskliniek, polisiestasie, mark en ʼn kerk is ook deel van dieselfde gebou.

Messy.nessy, wie se pa ook die burgemeester van Whittier is, deel verskeie video’s op sosiale media van hulle leefstyl en beantwoord nuuskierige kykers se vrae. Whittier is werklik uniek en het die bynaam gekry van “die dorp onder een dak”.

Die dorpie is slegs toeganklik via ʼn boot of ʼn tonnel wat sowat 4 km lank is.

Begich Towers is aanvanklik vir weermagbehuising gebruik tydens die Koue Oorlog en daar bly tans 318 mense in die gebou. Daar is ʼn tweede woonstelblok in die dorp waar die res van die inwoners bly.

Whittier se hawe (Foto: 127x0x0x1 via Wikimedia Commons)

Volgens Messy.nessy is daar ʼn tonnel in die kelder wat na die skool toe lei oorkant die pad. Sy het ook ʼn video gedeel waar sy ʼn “toer” deur die gebou neem. In reaksie op mense se kommentaar dat die gebou baie depressief lyk, het sy gesê sy is baie gelukkig in die dorp. Sy sê Whittier is baie mooi en hulle is slegs sowat ʼn uur se ry van Alaska se grootste stad, Anchorage – waar hulle inkopies kan gaan doen of kan gaan fliek. Nog ʼn dorp is sowat 20 minute van Whittier af geleë en daar is ʼn ski-oord in die winter en in die somer kan hulle met ʼn boot gaan vaar, gaan stap, visvang en met jetski’s ry.

Daar is nie enige huise in die dorp wat mens kan koop nie, omdat mens nie grond of eiendom in die dorp kan koop waarop mens ʼn huis kan bou nie. Mens kan wel woonstelle in die bestaande twee geboue koop.

Werksgeleenthede is beskikbaar by die spoorlyn, die tonnel, die skool, die kliniek en talle ander rolle in die dorp. Sommige inwoners pendel daagliks na Anchorage vir werk.

Kykers is verstom oor die video’s. “Die geskinder en die drama wat daar moet aangaan!” het een persoon in die kommentaar laat weet. “So mens het eintlik nie ʼn verskoning om iemand anders te ignoreer nie – mens kan nie sê ‘ek is nie by die huis nie’, want dis almal se huis!” het ʼn ander geskryf.

Messy.nessy het oorspronklik reageer op ‘n video van Livvontheedge waar sy oor die 14-verdiepinggebou gesels het:

@messy.nessy

#stitch with @livvontheedge

♬ original sound – jenessa

‘n Toer deur die gebou:

@messy.nessy

Reply to @esmearrazola

♬ original sound – jenessa

Reaksie op mense wat sê sy lyk hartseer om daar te bly:

@messy.nessy

Reply to @shaymoon2

♬ original sound – jenessa

In reaksie op mense wat wil weet of daar ‘n stadsraad is:

@messy.nessy

Reply to @bojonumberone

♬ original sound – jenessa

Nog beeldmateriaal van die dorp:

@messy.nessy

Reply to @samvicchiollo #greenscreenvideo

♬ original sound – jenessa

Klik hier om nog video’s van Messy.nessy en Whittier te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kirst

Ten minste doen hulle plaaslike regering reg. As dit nog maar vrywillig was om op die stadsraad te dien in Suid-Afrika sou dit baie beter gegaan het. Nou is raadslede hoogs betaald en sodra hulle verkies word begin hulle dink aan hoe hulle herverkies kan word oor 5 jaar, want anders verloor hulle al hulle voordele. En daar is nie minimum vereistes om ‘n raadslid te word nie – verbeel jou!