Video: Die eekhoring wat so lekker kon ski

Twiggy (Foto: Boyd Huppert, KARE 11)

Ná byna vier dekades kom vertonings van ʼn eekhoring wat kan ski, tot ʼn einde.

Lou Ann Best, wat haarself as Twiggy se “ma” beskou, se wyle man het 39 jaar gelede met die vertonings begin.

Lou Ann en Twiggy het Sondag hul laaste openbare vertoning by die X Games in Minneapolis, VSA, gehou. Kinders het verstom langs die vlak swembad gestaan en kyk hoe Twiggy op ʼn paar ski’s deur ʼn afstandbeheerde boot rondgesleep word.

Lou Ann het tydens die duisende vertonings as seremoniemeester opgetree en boodskappe oor waterveiligheid gelewer. Haar man, Chuck, het in 1997 verdrink. Chuck was ʼn lid van die Florida-hoofwegpatrollie en het in ʼn rivier gespring om sy stiefpa te help toe hy uit ʼn boot geval het. Sy stiefpa het oorleef, maar Chuck kon nie weer die boot haal nie, en het verdrink.

Lou Ann Best en Twiggy (Foto: Boyd Huppert, KARE 11)

“Mense wat besig is om te verdrink probeer nie om jou seer te maak nie, maar hulle is angsbevange en hulle gaan met jou baklei en alles in hul vermoë doen om uit die water te kom en asem te kry,” het Lou Ann in 2013 in ʼn onderhoud met KARE 11 gesê.

Die twee mans het nie lewensreddersbaadjies aangehad nie, alhoewel dit op die boot beskikbaar was – soos deur die wet vereis word. “Hoeveel van julle dra altyd ʼn lewensreddersbaadjie wanneer julle op ʼn boot is?” vra Lou Ann gewoonlik vir die kinders wat om Twiggy se swembad saamdrom. “Dink julle Twiggy het ʼn lewensreddersbaadjie nodig?” en dan knik die kinders gewoonlik om saam te stem.

Lou Ann haal dan ʼn piepklein lewensreddersbaadjie uit wat sy self gemaak het, en trek dit vir Twiggy aan.

Sy glo Twiggy se doel is om veral kinders bewus te maak van waterveiligheid.

Chuck het ʼn baba-eekhoring gered toe sy tydens ʼn orkaan uit ʼn boom geval het. “My man was lekker laf. Hy het een dag na ons dogter se speletjiesboot gekyk, en na sy eekhoring, en toe met die idee vorendag gekom van ʼn eekhoring wat kan ski.”

Twiggy se eerste ski’s was van polistireen gemaak en Chuck het haar geleer hoe om te ski.

Twiggy (Foto: Boyd Huppert, KARE 11)

ʼn Plaaslike koerant se fotograaf het die eerste paar foto’s van Twiggy geneem en sy was kort daarna wêreldwyd ʼn sensasie. Die reisende vertoning het kort daarna begin.

Twiggy was in twee flieks te sien, Dodgeball: A True Underdog Story en Anchorman: The Legend of Ron Burgundy. Sy was selfs ook in Brad Paisley se musiekvideo, “River Bank”, te sien.

Die huidige Twiggy (daar was al agt) is 10 jaar oud en, volgens Lou Ann, is hulle twee gereed om af te tree. “Dis baie moeilik om op te hou [met die vertonings], want Twiggy maak regtig ʼn verskil.”

Lou Ann is tans in gesprekke met ʼn persoon wat belangstel om die maatskappy oor te koop en ʼn nuwe eekhoring op te lei. Volgens haar sal sy slegs die maatskappy verkoop aan iemand wat ook bereid is om die waterveiligheidsboodskap voort te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.