Video: Die langste gesin in die wêreld

(Foto: Guinness-wêreldrekords)

ʼn Gesin in Esko, Minnesota in die VSA het ʼn rekord behaal waarby nie almal kan kers vashou nie.

Ontmoet die Trapp-gesin: Scott, Krissy, Savanna, Molly en Adam. Die gesin is deur die Guinness-wêreldrekords bevestig as die langste gesin in die wêreld met ʼn gemiddelde lengte van 203,29 cm.

Die jongste (maar beslis nie die kleinste nie) lid van die gesin is die 22-jarige Adam wat 221,71 cm in sy skoene staan.

Savanna Trapp-Blanchfield (27) is volgende op 203,6 cm. Laaste is hul sussie Molly Steede (24) op 197,26 cm.

Al drie Trapp-kinders het natuurlik nog altyd aan sport deelgeneem en is vinnig deur universiteite opgeraap vir basketbal of vlugbal.

“Afrigters het nog altyd gesê ‘mens kan nie hoogte aanleer nie’. Mens is óf lank óf nie,” sê Molly.

Krissy, die ma, is die kortste lid van die gesin op 191,2 cm. Hul pa Scott staan 202,7 cm in sy skoene.

(Foto: Guinness-wêreldrekords)

Savanna sê dit is haar “yslike lang kleinboet” Adam se lengte wat haar aangespoor het om Guinness-wêreldrekords te kontak. Die gesin het in Desember 2020 by dr. Anna Sudoh, ʼn ortopeed by Essentia Health, aangeklop om gemeet te word. Elke lid van die gesin moes drie keer deur die dag gemeet word – terwyl hulle staan en terwyl hulle lê. Die gemiddelde van dié mates is gebruik om hul lengte te bepaal.

Nadat hulle aan alle kriteria voldoen het om vir ʼn plek in die rekordboek te kwalifiseer, was die Trapps verheug om te hoor dat hulle amptelik as die langste gesin bevestig is.

Die gesin voel die wêreldwye erkenning wat hulle gekry het, sal hulle vergoed vir die nadele om so lank te wees.

“Die groeipyne was ontsettend erg. Ek het rekmerke op my bene,” sê Savanna.

Die Trapps het elkeen al vroeg besef dat hulle lank is – hulle het gereeld (letterlik) kop en skouers bo hul maats uitgetroon.

“Toe ek in graad 1 was, was ek langer as my onderwyser!” sê Scott.

“When I was in the first grade, I was taller than my teacher,” said Scott.

Die gesin is al gewoond aan die kommentare in die publiek en dat mense hulle aanstaar. Hulle het egter geleer om hul genetika te aanvaar en hul lengte te gebruik as ʼn manier om ʼn gesprek aan te knoop en ander in te lig. Intussen buk hulle maar wanneer hulle by ʼn ingang deurloop of wanneer hulle inkopies moet doen en het al geduld aangeleer wanneer hulle sukkel om hul motors te bestuur weens hul lang bene.

Die gesin volg steeds hul drome: Savanna wil steeds graag ʼn aktrise of model word en die wêreldrekord inpalm vir die vrou met die grootste hande. Molly wil graag een dag met haar eie lang gesin begin.

Die Trapps hoop dat hul lengte ander mense sal bemagtig wat uniek is of anders voel. Hulle wil hê die wêreld moet weet dat een karaktertrek jou nie definieer nie en hulle moedig mense aan om eerder ander te oordeel oor wie hulle is en nie hoe hulle lyk nie.

“Daar is vreugde en vryheid wanneer mens aanvaar wie jy is,” voeg Savanna by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Hulle sal darem handig in my huis wees en ek moet allewig op ‘n stoeltjie klim om bo-op my kaste te kan bykom. Letterlik nou hemelbesems!!!

Gert K

Ek wonder of hulle hoëhakskoene het ?

piet

Ek het nooit groeipyne gehad nie, was nie nodig nie. LOL