Video: Die langste vrou ter wêreld

Rumeysa Gelgi en ‘n beampte van Guinness-wêreldrekords (Foto: Guinness World Records)

Turkye se Rumeysa Gelgi (25) is deur Guinness-wêreldrekords aangewys as die langste vrou wat tans leef. Sy is 215,16 cm lank.

Rumeysa se lengte is vanjaar weer gemeen ná sy as die langste lewende tiener (vroulik) aangewys is in 2014 toe sy 18 jaar oud was.

Sy ly aan Weaver-sindroom – ʼn uiters seldsame toestand wat onder andere versnelde groei en ander abnormaliteite veroorsaak. Dit beteken dat sy hoofsaaklik in ʼn rolstoel moet rondbeweeg. Sy kan kort entjies met ʼn loopraam loop.

Sedert sy vir die eerste keer ʼn wêreldrekord opgestel het, was dit vir haar belangrik om haar platform te gebruik om ander mense bewus te maak van seldsame mediese toestande soos haar Weaver-sindroom.

Sy sê mense is nuuskierig as hulle haar op straat sien, maar meeste mense is vriendelik wanneer hulle haar vir die eerste keer ontmoet.

Sy hou van uiteet saam met haar familie en ontspan graag in ʼn swembad. Haar familie is baie trots op haar Guinness-wêreldtitel.

“Elke nadeel kan in ʼn voordeel vir jouself omskep word. Aanvaar jouself vir wie jy is. Wees bewus van dit waartoe jy in staat is en doen jou bes,” sê sy.

Rumeysa is van Turkye, waar Sultan Kösen (251 cm) ook woon. Hy is die langste man wat tans leef. Dit is seldsaam dat twee rekordhouers in dié kategorie van dieselfde land afkomstig is. Sy het hom nog nie ontmoet nie.

Die laaste keer wat twee rekordhouers van dieselfde land afkomstig was, was in 2009 toe China se Bao Xi Shun (236,1 cm) en Yao Defen (233,3 cm) die langste man en vrou ter wêreld was. Yao is in 2012 oorlede.

Rumeysa Gelgi by ‘n beampte van Guinness-wêreldrekords en haar broerskind Zeynep Yakut (Foto: Guinness World Records)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Wens ek het haar lengte gehad as ek soms sukkel om bo in my kaste goed by te kom. Sjoe, sy is omtrent lank!!!

piet

Saam met haar lang landgenoot is hulle amper 2 verdiepings hoog. LOL