[Video] Dié spieël werk net as jy glimlag

Smile Mirror

ʼn Spieël wat net werk as jy glimlag, wat spesifiek vir kankerpasiënte ontwerp is, sal binnekort te koop aangebied word.

Die Smile Mirror, ontwerp deur Berk Ilhan van Turkye, het ten doel om mense op te hef en hulle aan te moedig om te glimlag wanneer hulle in die spieël kyk.

Dit is deel van ʼn groter projek genaamd Uplift, wat daarop fokus om gesondheidsorg-ervarings te verbeter en vreugde te kweek by kankerpasiënte.

Stacey Gutman, wat twee jaar gelede met kanker gediagnoseer is, het aan Berk gesê tydens die eerste paar dae ná haar diagnose was dit vir haar moeilik om na haarself in ʼn spieël te kyk en te erken dat sy kanker het. Dié woorde het Berk geïnspireer om die Smile Mirror te bou.

Die toestel lyk soos ʼn tabletrekenaar met ʼn ingeboude kamera en het ʼn slim oppervlak wat deur die sagteware geaktiveer word. Die sagteware het gesigherkenningstegnologie wat kan registreer wanneer die persoon glimlag. Die oppervlak word dan ʼn refleksie, soos ʼn gewone spieël. Die Smile Mirror kan teen ʼn muur opgehang word of op ʼn tafel staan.

Smile Mirror

Terwyl Berk met sy meestersgraad besig was by die School of Visual Arts in New York het hy ʼn paar produkte ontwerp wat die gehalte van lewe van kankerpasiënte kan verbeter – op ʼn emosionele en maatskaplike vlak.

Hy het ook ʼn paar weke by verskeie kankerhospitale in Turkye deurgebring en met pasiënte, onkoloë en versorgers gesels.

Navorsing toon dat lag en glimlag die stresvlakke van ʼn persoon kan verlaag en die liggaam se immuniteitstelsel ʼn hupstoot kan gee. Indien die gesigspiere gebruik word waarmee mens glimlag, word daar seine na die brein gestuur dat iets goed besig is om te gebeur, en dit laat jou gelukkiger voel.

ʼn Beperkte aantal Smile Mirrors sal vroeg in 2018 te koop aangebied word, en volledige produksie sal in 2019 begin. Die spieëls sal egter vir tussen $2 000 – $3 000 (tussen ongeveer R27 000 en R40 000) verhandel. Die produk sal egter binnekort ook op die skarefinansieringswebwerf Kickstarter beskikbaar wees. Indien groot hoeveelhede vervaardig kan word, sal die spieël so min as $500 (R6 800) kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Valerie ·

MAW, dit gee ‘n vals beeld, maak nou nie saak hoe die vervaardigers dit wil probeer “spin” nie.

André ·

Dis ‘n ontsettende duur manier om mens beter te laat voel.
Weet nie of kankerpasiënte dit ook nog sal kan bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.