[Video] Die tragiese ballade van ʼn ‘linkse’ slak

Jeremy (Foto: University of Nottingham)

Jeremy, ʼn “linkse” bruin tuinslak, is Woensdag dood aangetref in ʼn yskas in ʼn Britse navorsingslaboratorium.

Jeremy was ʼn seldsame slak, met ʼn ongewone skulp wat na links gekrul het. Hy sal gemis word.

Hy het internasionale bekendheid verwerf vir sy mutasie. Wetenskaplikes het jare lank gesoek na ʼn maat wie se skulp ook na links krul, en kort voor Jeremy se dood is sy gevind.

Sy nalatenskap sal voortbestaan in die genetiese kennis van die spruite wat die twee saam vervaardig het.

Jeremy is aanvanklik in ʼn komposhoop in die suidweste van Londen gevind deur ʼn afgetrede wetenskaplike van die Natural History Museum. Die wetenskaplike het Angus Davison, ʼn genetikus aan die Universiteit van Nottingham in Engeland wat slakke bestudeer, gekontak.

Davison wou bepaal of Jeremy se linkse skulp oorgeërf is en of dit net ʼn vreemde mutasie was. Daarom moes Jeremy voortplant. Hy het Jeremy in sy sorg geneem en ʼn beroep op die publiek gedoen om ʼn maat vir Jeremy te vind met die hutsmerk #leftysnail op sosiale media. Gebruikers het vinnig ook #snaillove begin gebruik en Jeremy het ʼn ster geword. Hy het selfs ʼn liefdesliedjie geïnspireer (video onderaan die berig).

Jeremy en ‘n maat (Foto: University of Nottingham)

In die soeke na ʼn maat vir Jeremy is nog ses sulke linkse slakke gevind.

Jeremy se organe, insluitend sy genitalieë, het alles antikloksgewys gedraai en hy kon dus nie met ʼn gewone slak voortplant nie.

Twee moontlike maats, Lefty van Ipswich in Engeland, en Tomeu van Spanje, is verlede jaar November na Nottingham gebring. Dié twee het egter mekaar verkies bó Jeremy, en meer as 300 slakkies het gevolg.

ʼn Paar dae voor Jeremy se dood het Tomeu nog vier dosyn slakkies vervaardig, en Jeremy was moontlik ʼn paar van hulle se pa. Hy kon egter nie sy spruite sien nie, maar Davison het gesê “hy sou hulle in elk geval nie herken het nie”.

Al die spruite het egter gewone skulpe gehad. Dit beteken dat die geen wat die rigtingverandering laat plaasvind, moontlik meer as ʼn generasie kan neem om weer te verskyn.

Jeremy het al sedert Februarie gereeld gehiberneer. Hy was Vrydag, 6 Oktober, nog perdfris, maar is Woensdag dood aangetref. Hy het moontlik weens ouderdom omgekom. Sy skulp word nou by die Universiteit van Nottingham bewaar en sal in opleiding gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adoons ·

Jeremy kon seker maar Jenny ook gewees het. Sover ek weet is slakke nie te kieskeurig met betrekking tot die geslag van hulle lewensmaats nie. Gooi enige twee bymekaar en siedaar: Kinders by dosyne!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.