Video: Die vrou met die langste bene

Ekaterina Lisina (Foto: Guinness World Records)

Ekaterina Lisina van Rusland is die vrou met die langste bene ter wêreld.

Sy het vanjaar in September die Guinness-wêreldrekord verbeter met ʼn linkerbeen wat 132,8 cm lank is en ʼn regterbeen van 132,2 cm. Die afmetings is in haar tuisdorp Penza in Rusland gedoen deur onafhanklike professionele beamptes – ʼn naaldwerkster en ʼn dokter, en haar bene is gemeet van haar hak tot by die bokant van haar heup.

Die 29-jarige model kom uit ʼn lang gesin: haar broer is 201,1 cm, haar pa 198,1 cm en haar ma 185,9 cm. Ekaterina troon egter bó haar gesin uit, sy is 205.16 cm lank.

Sy het selfs as kind baie gemaklik gevoel oor haar grootte, alhoewel sy by die skool geterg is.

“Ek wou ʼn inspirasie wees vir meisies wat nie baie selfvertroue het nie,” het Ekaterina verduidelik oor haar besluit om vir die Guinness-wêreldrekord in te skryf. Sy sukkel om langbroeke te kry, en sukkel om in ʼn vliegtuigsitplek of motor te pas. Haar skoengrootte is ʼn 12½ – en sy sukkel dus ook om vroulike skoene te kry.

Maar sy reken daar is ook baie voordele om die langste bene te hê: “Ek kan baie vinniger as ander mense loop!”

Sy het ook ʼn suksesvolle basketballoopbaan gehad en ʼn brons medalje ingepalm tydens die Olimpiese Spele in Beijing in 2008.

Ekaterina wou altyd ʼn model wees en sy het haar basketballoopbaan laat vaar om dié droom na te streef. Sy werk nou al langer as ʼn jaar professioneel as ʼn model en sy het ook sommer haar tweede Guinness-wêreldrekord bekom: die langste professionele model.

Sy skerts en sê sy het byna ʼn ongeluk gemaak toe sy bestuur het en die nuus gehoor het dat sy die langste bene in die wêreld het – nou wens sy sy het vroeër ingeskryf!

Die vorige rekordhouer was Svetlana Pankrotova (ook van Rusland). Haar bene is 132 cm lank.

Die 2018-weergawe van die Guinness World Records 2018 Edition is nou beskikbaar.
Koop by Graffiti Boeke of Takealot vir R280-00*.
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kosie ·

Haar lang bene is regtig mooi maar ek sidder as ek dink aaan daardie paar 12.5 grootte voete. En om n gemaklike kooi te vind kan n probleem wees.

Niklaas ·

Neewat. Te lank. Ek dink nie ek wil met haar dans nie. Dit sal intimiderend wees as ek soos skoolseun deurgans na haar moet opkyk.

Koosklong ·

Niklaas, jy hoef haar nie te soen as sy te lank is nie, groet sommer met die hand ?

Philip Kuhn ·

Voorwaar ‘n paar mooi lang bene om op trots te wees.

Theresa B ·

Heng ek wil weet waar kry sy skoene. Sy het mooi skoene aan. Hier by ons – as jy by no 8 kom begin dit regtig “ou tannie” skoene word. LOL!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.