Video: Die wêreld se eensaamste man

Skermgreep uit die video

Seldsame beeldmateriaal is vrygestel van ʼn lid van ʼn stam in die Amasone in Brasilië wat as die “eensaamste mens ter wêreld” beskryf word.

Die man, vermoedelik in sy 50’s, bly al 22 jaar lank alleen nadat die laaste lede van sy stam vermoor is.

Die rukkerige video, wat van ʼn afstand verfilm is en deur die Brasiliaanse regering se natuuragentskap Funai vrygestel is, wys hoe die gespierde man ʼn byl gebruik om ʼn boom af te kap. Die beeldmateriaal is wêreldwyd gedeel.

Funai monitor die man al sedert 1996 van ʼn afstand af en wou bewys dat die man steeds leef om ʼn beperkingsbevel op die gebied waar hy woon, te hernu. Die gebied, ongeveer 4 000 hektaar, is omring deur privaat plase en ontbosde dele, maar die bevel verhoed enigiemand om die gebied te betree en hom te bedreig. Onder die Brasiliaanse grondwet het inheemse mense die reg tot grond.

Baie min is bekend oor die man, selfs al was hy onder bespreking in verskeie nuusberigte en ʼn boek, The Last of the Tribe: The Epic Quest to Save a Lone Man in the Amazon deur die Amerikaanse verslaggewer Monte Reel.

Volgens die inligting wat tot Funai se beskikking is, het geen buitestander nog ooit met die man gepraat nie. Hy is vermoedelik die enigste oorlewende ná ʼn groep van ses lede van sy stam in 1995 deur boere in die gebied aangeval is. Sy stam het nie ʼn naam nie en dit is ook nie bekend watter taal hulle gepraat het nie.

Die beeldmateriaal is seldsaam, omdat daar tot dusver slegs een onduidelike foto van hom bestaan het. ʼn Filmmaker het dié foto geneem toe hy Funai vergesel het op ʼn moniteringsreis.

Aktiviste sê hulle is dankbaar (en verras) om te sien dat die man klaarblyklik gesond en in ʼn goeie toestand is.

Die agentskap het gesê hy het ʼn beleid dat hy nie kontak maak met geïsoleerde groepe nie en die man het dit ook al in die verlede duidelik gemaak dat hy nie enige kontak wil hê nie – hy het pyle geskiet op persone wat hom wou nader.

Lees meer: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Caroline ·

Swak video. Met die heeltyd se in en uitzoom kan g’n mens sien hoe die man lyk nie maar nouja dis seker om hom te beskerm

SNEL ·

Ja-nee, genade, voel nou seesiek na daai video. Arme man, so alleen, maar miskien geniet hy sy lewe soos hy is. Mens wens jy kan hom bederf, lekker kos, n lekker bad of wat ook al, maar sy maag gaan werk vir dae agv die kos, sy vel gaan uitslaan met knoppe van die seep… punt is, hy is sy manier van lewe gewoond. Miskien moet hulle vrugtebome en sulke goed plant dat hy altyd ietsie het om te eet en bondels gekapte hout vir hom iewers los en hom maar so bederf.

JoeV ·

Die ge in en uit zoom laat mens dink dit probeer te hard om te oortuig…

EENSAAM ·

As genoeg enkel vrouens die video sien sal hy kort voor lank meer as een vrou he

anda le Roux ·

Hy sal weghardloop! Sal nie weet wat om met hulle te doen nie! ?

Johann cb ·

Sjoe, die arme man! Ek het gedink ék is eensaam…sien gelukkig soms mense!

EensaamIsNet'nWoord ·

Wie sê hy is eensaam? Ek is op my gelukkigste alleen

ZAR ·

Vir die mense wat hierdie geniet het, gaan kyk die fliek end of the spear, gebaseer op ‘n ware verhaal.

Daan Erasmus ·

Die eensaamste mense is die deur duisende ander omring is. Nie die persoon wat 5 km van die naaste buurman is nie.

Netso ·

My 6 jaar oue kind kan met ñ selfoon beter afneem! Lyk of hy ñ kitskos dieët volg met daai lomp lyf!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.