Video: Een fliekkaartjie, een boom

Antoinette Pienaar en Oom Johannes Willemse Foto: kruiekraaikoning.co.za

Antoinette Pienaar en Oom Johannes Willemse Foto: kruiekraaikoning.co.za

‘n Lokprent van die dokumentêr, Op Theefontein, volg onderaan die berig. Kaapstad hou binnekort ʼn eko-filmfees waar ʼn deel van die opbrengs vir herbebossing aangewend gaan word.

Op Theefontein, onder regie van Hermien de Vos en Johann Botha, is die enigste Suid-Afrikaanse inskrywing wat tydens dié filmfees vertoon gaan word.

Dié dokumentêr handel oor die Griekwa-kruiekenner, Oom Johannes Willemse, wat ʼn wit vrou, Antoinette Pienaar, leer hoe om tradisionele kruiemedisyne te gebruik.

Oom Johannes is reeds in sy 90s en Pienaar is ʼn bekende in die Afrikaanse verhoog- en radiobedryf.

De Vos sal na die vertoning aan ʼn informele gesprek met die gehoor deelneem. Botha is ʼn Afrikaanse televisie- en radioaanbieder wat veral bekendheid verwerf het vir sy betrokkenheid by die SAUK se omgewingsbewustheidsprogram, 50/50.

Op Theefontein wys Sondag, 30 Maart om 14:00.

Die Eko-filmfees vertoon plaaslike en internasionale dokumentêre rolprente wat fokus op omgewingskwessies.

Vir elke fliekkaartjie van R45 word ʼn donasie van R5 vir Greenpop geskenk wat die geld sal aanwend vir hul herbebossingspogings in Suid-Afrika en Zambië. Vir elke sogenaamde “Boomkaartjie” wat teen R160 verkoop word, word ʼn boom in Kaapstad of Zambië aangeplant. Hierdie kaartjiehouers ontvang ʼn sertifikaat met die GPS-koördinate van die boom wat aangeplant is.

Die filmfees vind tussen 27 en 31 Maart by die Labia-teater in Kaapstad plaas. Klik hier vir besonderhede oor die ander rolprente wat vertoon gaan word en om die onderskeie lokprente te sien. Klik hier om jou kaartjie te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.