Video: ‘Eensame’ pikkewyn spring op toeristeboot

Skermgreep uit die video

ʼn Toergids het ʼn groep deur Antarktika se Rosssee gelei toe ʼn eensame stormbandpikkewyn op die opblaasboot gespring het.

Die gids het die enjin afgeskakel sodat die klein pikkewyn maklik aan boord kon kom en die besonderse Antarktiese uitsig met sy medepassasiers kon besigtig.

Die pikkewyn het aan boord gehop en hom langs ʼn passasier tuisgemaak. Toe ʼn ander passasier aan hom wou raak, het hy van die persoon weggehop.

ʼn Video van die voorval word nou wyd op sosiale media versprei.

“Ek was heeltemal geskok, om eerlik te wees,” het John Bozinov, die toergids, aan die Daily Mail gesê. “Ek was al honderde ure op bote tussen pikkewynkolonies en dit is die eerste keer dat só iets gebeur.”

Die pikkewyn het ongeveer 10 minute lank op die boot gebly en die ysige water afgeskud. Die toeriste het sy geselskap baie geniet.

Dit is moontlik dat hy roofdiere soos orkas of luiperdrobbe wou vermy, volgens die video-beskrywing wat ViralHog gedeel het.

Bozinov, ʼn 30-jarige gids van Wellington, Nieu-Seeland, sê hy glo die pikkewyn was so vriendelik omdat hy “eensaam” was – daar was nie enige ander voëls in die omgewing te sien nie.

John werk al ses jaar lank as ʼn gids in Antarktika en die Arktiese Oseaan. Hy werk as ʼn fotograaf tydens die onderskeie somermaande.

Die video is al in Januarie 2020 verfilm toe John op ʼn maand lange toer was na die poolse streek, maar is eers onlangs op sosiale media gedeel.

Volgens Wikipedia is stormbandpikkewyne is onmiskenbaar met die swart streep om die nek. Dit verskil van die Adeliepikkewyn – die swart op die kop strek nooit verby die oë nie. Die voël staan ook bekend as die kenbandpikkewyn of keelbandpikkewyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Ek is seker van die pasasiers het met liefde namens hom vir sy kaartjie betaal. So ‘n besondere reisgenoot is maar skraps. Die reisgroep was voorwaar bevoorreg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.