Video: Geen koffie vir jou nie, besluit koning leeu

Dylan Panos en die leeu (Skermgreep uit die video)

Dis heerlik om in die bos wakker te word, maar nie as ʼn brullende leeu jou deur die kombuisvenster dophou nie.

Dylan Panos (46), eienaar van Bhejane Nature Training in noordelike KwaZulu-Natal, het onlangs presies in dié situasie beland. In ʼn video wat hy al op 25 Junie vanjaar verfilm het staan Panos in ʼn oop kombuis by ʼn kamp. Hy probeer om koffie te maak, maar die leeu hou aan brul wanneer hy Panos sien. Dié video maak nou opslae op sosiale media.

Panos verduidelik ʼn wyfie lê langs die kombuismuur en stel glad nie belang in die mannetjie se planne nie.

Hy wys ook dat die kombuis en die eetkamer nie enige deure het nie en slegs ʼn siffie teen die vensters.

In die beskrywing wat die gebruiker Viral Hog gedeel het, word verduidelik dat Panos nie in enige gevaar is tensy hy by die leeu se gejag probeer inmeng nie.

Panos skerts en sê die leeu is “onbeskof” (omdat hy nie koffie kan maak nie). Hy lag ook oor die kat se vasberadenheid om by die wyfie uit te kom. “Jy is ʼn snaakse leeu,” sê hy.

Van die Bhejane-studente sit in ʼn geparkeerde voertuig daar naby en wag vir die wilde diere om pad te gee sodat hulle ontbyt kan geniet.

Koning leeu het glo ná sowat 40 minute padgegee.

Hier is ‘n verkorte weergawe van die video:

Klik hier om Viral Hog se video te sien

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Schalk ·

Baie mense sou meer as koffie nodig gehad het na so skrik, om van vars onderklere nie eers te praat nie! Only in Africa soos hulle praat gebeur die dinge.

Trotse Boervrou ·

Fantastiese ervaring! Sjoe, wat ‘n absolute voorreg is dit nie. Afrika op sy beste!

Kirst ·

Soos die gesegde lui; moenie met die leeu se b.. speel nie. Leeumannetjies wat paar raak erg beneuk as jy met hulle planne inmeng.

Elinette ·

Kyk hier, dis net daar wat ek sê: “Te dinges met koffie, ek laat spat!”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.