Die 12-jarige Grace van der Waal het dié week gewys wonderwerke kan definitief gebeur.
Van der Waal was Dinsdagaand op NBC se America’s Got Talent en het die beoordelaars en gehoor gaande gehad.
Sy het skaam en nederig op die verhoog gestap en verduidelik hoe sy nog nooit voor ʼn gehoor opgetree het nie – haar vriende weet nie eers sy sing nie. Op Simon Cowell se vraag of sy dink sy kan wen, het sy geantwoord: “Wonderwerke kan gebeur, so miskien.”
Die oomblik wat sy egter haar eie liedjie, “I Don’t Know My Name”, op haar ukelele begin speel en begin sing, was die gehoor en beoordelaars verstom.
Sy het ʼn staande ovasie gekry en beoordelaar Howie Mandel – wat haar ook ʼn “wonderwerk” genoem het, het die gesogte goue gonser gedruk om haar plek in die regstreekse uitsending te verseker.
Terwyl die goue konfetti oor haar gereën het, het Van der Waal in ongeloof en blydskap ʼn paar trane gestort. Haar gesin haas hulself dan na haar om haar te omhels.
Video’s van haar optrede is reeds ‘n paar miljoen keer op sosiale media gekyk.
Pragtig, maak my sommer lus om my ukulele ook te vat en te begin oefen. Haar ma-hulle kan so trots wees, sy lyk ook na n baie oulike dogtertjie.
Ek het self die video al n paar keer gekyk. Sy is pragtig en het n baie mooi persoonlikheid. Sy gaan nog ver kom.