Video: Goue gonser vir hommeltuig-vertoning

Skermgreep uit die video

ʼn Hommeltuig-ligvertoning is onlangs deur Simon Cowell beloon met ʼn goue gonser tydens die America’s Got Talent: Extreme-televisieprogram.

“Hommeltuie was nog altyd vir my net ʼn irritasie,” het Cowell, een van die beoordelaars, aan die span van Verge Aero gesê. “Tot vandag toe.”

Cowell het opgestaan en bygevoeg: “Ek moet vir julle ʼn geskenk gee,” voor hy die goue gonser gedruk het.

America’s Got Talent: Extreme is ʼn Amerikaanse realiteitsprogram en talentkompetisie wat deur Cowell geskep is. Die eerste episode is op 21 Februarie 2022 uitgesaai. Dit is ʼn splinterreeks van America’s Got Talent en fokus op waaghals-vertonings. Terry Crews is die aanbieder met Cowell, afgetrede WWE-stoeier Nikki Bella en professionele motorsport-atleet en waaghals Travis Pastrana as beoordelaars.

Deelnemers van reg oor die wêreld spog met hul waaghalstruuks en talente vir die paneel in die hoop om deur te dring na die finale ronde. Die uiteindelike wenner stap weg met ʼn kontantprys van $500 000 (sowat R7,6 miljoen).

Verge Aero se doel is om hommeltuig-vertonings gewild te maak. Chris Franzwa, Anthony Merlino, Tony Samaritano en Nils Thorjussen het die afgelope paar jaar gespook om die tegnologie en stelsels te ontwikkel om een van die verstommendste ligvertonings ooit te skep. Die maatskappy het laat in 2016 tot stand gekom.

Hulle het aanvanklik sommer uit sitkamers, kelders en ʼn motorhuis gewerk, maar die maatskappy is tans ʼn vooraanstaande tegnologie-verskaffer vir professionele hommeltuig-vertonings.

Verge Aero was te sien by verskeie geleenthede, van Joe Biden se feesviering toe hy as Amerikaanse president aangewys is tot die Electric Daisy Carnival en nou America’s Got Talent: Extreme.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.