Video: Grappige video van hond wat met vlag vlug

Lucie Green sit Lily, die negejarige bassethond, agterna (Foto: Skermgreep uit die video)

Sosialemediagebruikers lag lekker vir ʼn video van ʼn hond wat met ʼn Coca-Cola-vlag op die vlug slaan en ʼn vrou wat hom agternasit.

Lucie Green, ʼn vrywilliger by Bay of Islands Animal Rescue in Kawakawa, in die noorde van Nieu-Seeland, het oudergewoonte voor werk saam met die negejarige bassethond, Lily, gaan stap. Sy het aan die NZ Herald gesê sy wou gou by ʼn bakkery in hardloop om ʼn lekkerny vir Lily te koop.

“Dit was die dag reënerig en die wind het gewaai en ek het nie mooi gedink wat ek doen nie. Ek het haar aan die vlagpaal reg voor die deur vasgemaak sodat sy my kon sien waar ek by die toonbank staan,” verduidelik Lucie. “Ek weet nie wat haar skrik op die lyf gejaag het nie, maar die volgende oomblik het sy begin hardloop en wou vir niemand stop nie!”

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe Lucie heen en weer oor die pad agter Lily (en die vlag) aan hardloop.

Lucie lag saam oor die video. “Dit lyk of ek ʼn branderplankryer in die straat af jaag!”

Sy het egter ook eers besef dat hulle voor aankomende verkeer in gehardloop het toe sy die video gesien het. “Ek het haar naam geroep en haar uiteindelik ingehaal.” Lily was self op pad huis toe.

Toe sy en Lily uiteindelik weer by die huis kom, het sy besef sy moet nog die vlag gaan teruggee en vir die worsie gaan betaal!

(Hou Lucy en Lily aanvanklik aan die linkerkant van die video dop)

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier speel nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bokkie ·

Baie oulik! Wat my getref het is die ongelooflike skoon sypadjie en straat. Well done Nieu-Zeeland!

Zarelsie Van der Merwe ·

Kawakawa is so 10km van ons, in die pragtige Bay of Islands. Ons het die dag met Lilly’s run juis deur die dorp gery. In Lilly se video is geskiet net oorkant die wereldbekende Hundertwasser toilets, in Kawakawa, aan die regterkant van die skerm . Lekker plattelandse dorpie. Groete uit NZ.

Sharon Bronkhorst ·

Niemand dink daaraan hoe bang arme Lilly moes gewees het nie!!!!!

Nettie ·

Ek sou ook gehol …… en gehol …. en GEHOL het, had ek daai rooi-en-wit-gevaarte agter mý aanhol gesien het – en hoe meer die arme Lily hol, hoe harde hol die vlag agter haar aan …..

Dankie vir ‘n lekker lag, Maroela Media. Ek hoop arme ou Lily is OK en dat haar “mens” haar darem weer gekry het en vir haar ‘n lekkerny gegee het.

RG ·

Ja Nettie net so. Ek het met my hond so episode beleef. Het vir hom lekker souserigheid in ‘n oondpan gegee en sy halsband het in die oond pan verstrengel geraak. Volgende oomblik sit Chow met oond pan agter hom op loop. Hy loop nou nog draaie om enige swart pan en sal nie sy bek daaraan sit nie al is dit nou rump steak. Ons kan so baie by hulle leer soos ‘leer jou les die eerste keer!’

Ekke ·

Sy kan bly wees dit het nie in SA gebeur nie, anders was hulle nie meer met ons nie, plat soos n pannekoek in die verkeer.

Virale bemarkingstrategie ·

Mens noem dit virale bemarking, slim plan coke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.