Video: Groot vrolikheid toe hy vir die eerste keer reën sien

Sunni Mckenzie (Foto: Tiffanie Mckenzie via Daily Mail)

ʼn Video, wat in Australië verfilm is, wys ʼn seuntjie se vreugde toe hy vir die eerste keer in sy lewe reën sien.

Die 18 maande oue Sunni Mckenzie spring in die poele en dans in die reën op die gesin se plaas in New South Wales, berig 9 News.

Swaar reën het Donderdag oor dele van Australië geval ná maande lange droogte en daar is ʼn verwagting dat dit sal help met veldbrande wat steeds in die land woed. Australië ervaar sedert September verlede jaar sy ergste veldbrandseisoen tot datum. Die brande het reeds 29 lewens geëis, miljoene diere is dood, huise en woude is verwoes en die lug is besoedel met rookwolke.

Te midde hiervan het reën hoop geskep en inwoners weer laat glimlag. Sunni se ma, Tiffanie Mckenzie, het die video verfilm en dit met 9 News gedeel.

Susanta Nanda van die Indian Forest Services het ook die video op Twitter gedeel. “Swaar reën in Australië bring vreugde na dié droogtegeteisterde kontinent,” het Nanda geskryf. “Dié 18 maande oue seuntjie is verheug om dit vir die eerste keer te sien. Ja, reën ná 18 maande is ʼn paradys.”

Tiffanie het aan Daily Mail Australia gesê hulle het na buite gehardloop en die plante na buite geskuif. “Hy het in die reën uitgestap en net in die reën gaan staan,” het sy gesê. “Hy het nog nooit die kans gehad om dit te doen nie. Hy het dit baie geniet!”

Hul huis in Scone, New South Wales, het al die afgelope drie jaar slegs druppels reën gehad. “Ons het die afgelope drie jaar nie sulke reën gehad nie. Ons hoop dat dit sommer vyf dae lank sal voortduur,” het sy bygevoeg.

Volgens Reuters het meteoroloë en waterowerhede gewaarsku dat die reën verligting kan bring, maar swaar reën kan ook lei tot modderstortings en waterbesoedeling.

Our boy just can't contain his excitement! ???????? Guy Mckenzie

Posted by Tiffanie Mckenzie on Wednesday, January 15, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VanAfrika ·

Sulke kinderlikheid en onskuld wat vreugde wys vir die bietjie reën, hy is te pragtig.

Hans ·

Water is lewe,, mens kan jou nie indink om daarsonder klaar te kom nie. Wat my bekommer is die verwaandheid van ons mense om enigsins toe te laat dat strome rou riool riviere en damme besoedel. Hoe lank nog voor die groot pes uirbreek agv die ongeergde houdin hier by ons.

sc ·

Mag daar nog baie reën val. Glo baie volwassenes ook hul vreugde soos die kind gewys.
Reën is lewe, die grootste genade wat ons kan kry.

Hoop ons droë land kan ook kry waar nog nodig is.

JohanR ·

En ons gaan net soe vroelik wees die dag dat die ANC die algemene verkiesing verloor…..

Johan Pretorius ·

Ons is baie dankbaar vir die reen. hopelik kry ons brandweermanne ( feirries) a break in NSW en Victoria , in QLD is die veldbrande nou goed geblus. Ons haal weer asem in die skoon lug na die reen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.