Al ooit gewonder hoe klink ʼn hiëna as hy gekielie word? Dan moet jy eenvoudig na hierdie video van Nico en Karen Roets en hul hiëna kyk.
ʼn Video van Nico Roets wat vir Petrus die hiëna streel, het vandeesweek weer soos ʼn veldbrand op verskillende sosialemediaplatforms versprei.
In die video lê Petrus met sy kop op Nico se skoot luilekker uitgestrek soos wat min skoothondjies die aasdier sal kan nadoen. Hy kraai en lag behoorlik van plesier terwyl Nico hom oor sy kop en pens vryf.
Die Roetse is die eienaars van die Weltevrede-leeuplaas op die R57 tussen Sasolburg en Heilbron. Die leeuplaas is die tuiste van talle leeus, hiënas en wildehonde.
Karen, wat die video so 18 maande gelede vir familie en vriende opgeneem het, sê sy is eintlik heel verbaas om te hoor dat dit ewe skielik so wyd versprei het.
Petrus was met die verfilming van die video sowat 8 maande oud en is met die hand grootgemaak.
Hy het hom gereeld op die Roetse se bed tuisgemaak. Petrus sou ook graag enigiemand wat braaf genoeg is en lank genoeg kan stilsit se gesig skoonlek.
“Sy naam is ʼn interessante storie: Ons het ʼn vriend in die omgewing wat altyd gesê het die trappe van vergelyking vir mooi is, mooi, pragtig, Petrus. Die klein hiëna was vir my so mooi dat ons hom dadelik Petrus gedoop het,” sê Karen.
Petrus is intussen saam met ʼn wyfie in ʼn kamp uitgeplaas en kuier deesdae nie meer by die Roetse aan huis nie.
Op ʼn vraag of die Roetse ooit bang was vir hiëna, het Karen gesê hiënas wys gou as hulle omgekrap is. “As daai stertjie so kiertsregop trek en die agterlyf sak so laag, dan weet jy hy is kwaad.
“Maar dit wys jou net, hiënas is nie so erg soos wat almal dink hulle is nie.”
- Let op: Hierdie video is in uitsonderlike omstandighede verfilm deur persone wat vertroud is met die betrokke dier. Moenie dit self met ’n wilde dier probeer doen nie.
Ek wil so ‘n “hondjie” hê. Terwyl hy die ongenooides byt, lag hy….en dink net hoe lekker sal jy in die straat kan stap… Niemand, maar niemand gaan jou pla nie…
Kom ons kyk ook hierna:
https://www.youtube.com/watch?v=fwIvI_HDtzI
dink net hoe lekker sal dit wees as hy my hondjie kan wees, terwyl hy jou byt “lag” hy sy agterent af
Siesa! Ek gril my dood!!
Mag miskien ‘n goeie waghond wees maar nie vir my nie dankie. Ek het nog nooit van ‘n hiëna gehou nie. Hulle het so onderlangse manier van kyk na mens. Jy weet nooit wat hulle dink nie. Nes ‘n skelm.
Elke plaasboer het so n hond nodig wat goed opgelei is. As hy aanval moet hy sommer opeet.
Petrus is pragtig, en lag so lekker. Hy is definitief die gelukkigste “hondjie” saam met sy pa! Wonder of hy sal ” vrouvat”, aangesien hy so saam met sy eienaar uithang! He he
U-hum ……………… ek weet nie so lekker nie. ‘n Hiëna is vir my ‘n bangmaak-ding. Hulle lyk vreeslik agteraf. Daai half-skelm manier van kruip/loop en daai ge-“hie-ha-haha-hie-hieeeeeee” lag van hulle. Uh-uh, ek dink ek sal maar by my Rottweiler en Alsatians hou, dankie.
Ek dink Petrus is pragtig!! En nee, ek dink nie hulle is skelm nie. Dit is die mens se persepsie. Bly Petrus is nou by sy wyfie in die kampie!!
Hierdie is n wilde dier en moet in die natuur gelaat word . Baie riskant om n wilde dier as troeteldier aan te hou !