Video: Honde se reaksie op ‘worsie’ laat almal skater

‘n Skermskoot uit die video

Daar is min dinge waarmee jy haar drie spanjoele kan omkoop, vertel Hermien Pretorius van Bloemfontein. Niks ewenaar egter ʼn worsie nie; selfs oor hondekoekies is hulle min gespin. Daarom wou sy dié honde se skattige reaksie op video vasvang – en duisende sosialemediagebruikers is gaande daaroor.

Pretorius vertel sy het nie verwag dat dié video soveel reaksie op sosiale media sou ontlok nie. Sy sê sy deel minstens een keer per week ʼn foto of ʼn video van dié spanjoel-hondegesin – ʼn pa, ʼn ma en hul tefie – op Facebook, maar dit is die eerste keer dat sy sulke beduidende reaksie ontvang.

Die video waarin die skattige hondekinders oënskynlik uit ʼn diep koma wakkerskrik en opgewonde begin rondtrippel wanneer sy die woord “worsie” voor hulle sê, het nou behoorlik vir kitsroem gesorg.

“Hulle verstaan Afrikaans heeltemal,” vertel sy in ʼn telefoniese onderhoud. “Hulle woordeskat beïndruk ons altyd ongelooflik baie. Hulle ken byna al die name van enigiets wat geëet kan word. Hulle reageer ook altyd opgewonde op die frases ‘ons gaan ry’ of ‘kom ons gaan slaap’, maar met die woord worsie of die vooruitsig van dié bederf kan jy hulle behoorlik omkoop.”

Sy sê die spanjoele is ʼn “hegte gesinnetjie”. Sebastiaan (drie en ʼn half jaar oud), in die middel, is die pa; Juliet (ses jaar oud) aan die regterkant is die ma en Geisha (net ouer as twee jaar) is hul “dogter”.

“Sebastiaan en Juliet het ʼn werpsel van agt hondjies gehad waarvan ons toe net twee gehou het. Juliet se boetie, Napoleon, is onlangs aan kanker dood. Dit was vir ons baie tragies. Maar sedertdien is hulle nog meer geheg aan mekaar; hulle slaap saam, speel saam en gaan saam oral heen. Daar is nooit ʼn bakleiery nie.”

Pretorius sê sy beoog om dié video vir Kwêla se “Funnies” in te skryf nadat talle sosialemediagebruikers haar aangepor het om dit te doen. “Hierdie honde bring vir ons elke dag soveel vreugde, so dit is vir my wonderlik om te dink dat hulle vir ander mense daar buite ook vreugde kon bring. Dan is ek bly dat ek die video op sosiale media gedeel het.”

My dogs understands Afrikaans fluently!knows the difference between a biscuit and a sausage ????❤❤ (Please vote for them! Kwela's funniest video competition. Sms the word WORSIES to 33157. Votes started today 7 Oct 2018)

Posted by Hermien Pretorius Kock on Thursday, May 17, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

maplotter ·

Daai honde is darem verskriklik bederf , amper so erg soos myne.

ansie ·

Ek het my lewe lank spanjoele as troeteldiere gehad en hulle het nogal baie menslike eienskappe ontwikkle. ek dink dit hang ook af hoe hulle grootgemaak word. Hulle is baie intelegent en beskermend teenoor hulle huismense. Myne het gereeld agresie getoon teenoor wie hulle ookal as bedrieging vir veeral die kinders beskou het. My een tefie was vir dae depresief nadat haar ma dood is aan bosluiskoors. Ons moes omtrent bontstaan om haar daaruit te kry.

ChrisE ·

Ek het nog net een keer ‘n Spanjoel in my lewe gehad. Nooit weer nie. Die hond het onder my vel ingekruip, my misbruik, met my kop gesmokkel en my gemanupileer. My vrou het my beskuldig dat ek die hond liewer het as vir haar. Sy is twee jaar gelede dood en ek huil nog binnetoe oor die hond.

Hennie ·

Wat ‘n pragtige gesinnetjie! Dis lekker om te sien dat diere goed versorg en bederf word.

Pop ·

Ek kyk sulke videos oor en oor. Dit laat my lekker voel . Ek word ook baie beskuldig dat ek my honde kinders gruwelik bederf. Ek se “nee, dis my kinders” en so word hulle behandel.

Hannelie Horn ·

Ag hulle is te ‘sweet’. Ons worshondjie kan vir ure stip voor haar staar opsoek na geitjies. As jy haar vra ‘waar is die geitjie’ hol sy muur toe en staar stip, sy roer nou nie eens nie…en jy kan haar met ‘n worsie lok…..geen reaksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.