Video: In dié klas eet jy roomys

Skermgreep uit die video

Penn State University, geleë in Pennsilvanië, VSA, bied jaarliks ʼn kortkursus in roomys aan en bekende roomysvervaardigers soos Baskin-Robbins, Häagen-Dazs en Nestlé het al verteenwoordigers gestuur om meer te leer.

Ongeveer 120 studente van oor die wêreld heen woon jaarliks die program by. Die kursus is al in sy 126ste jaar en meer as 4 400 persone van elke kontinent (buiten Antarktika) het al die kursus bygewoon.

Dr. Bob Roberts is die kursusleier en hy verduidelik die kursus fokus spesifiek op die nuanse van die vervaardiging van roomys vir ʼn kommersiële mark.

Die kursus duur sewe dae lank en word gewoonlik in Januarie aangebied. Studente woon meer as 20 werkswinkels by oor gespesialiseerde tegnologie wat betref geure, verkoeling, verhardingstegnieke en hoe om bevrore jogurt en ander bevrore nageregte te vervaardig.

Die Berkey Creamery, ʼn laboratorium vir navorsing, het al in 1865 sy deure oopgemaak. Dit is deel van Penn State University, ʼn universiteit wat in 1855 gestig is. By Berkey Creamery word meer as 120 verskillende tipes roomyse vervaardig en die publiek kan ook roomys direk by dié suiwelfabriek aankoop.

Penn State se roomys-kortkursus is die oudste, bekendste en grootste opvoedingsprogram wat die wetenskap en tegnologie van roomys hanteer. Die kursus is vir die eerste keer in 1892 aangebied, toe Penn State nog as die Pennsylvania State College bekend gestaan het. Die departement van landbou het ʼn kursus aangebied in die vervaardiging van suiwelprodukte in die winter, “wanneer daar minder werk op die plaas is”. Die kursus was gratis, maar studente moes $5 betaal vir “toevallige uitgawes en laboratoriumkostes”. (Die kostes vir die kursus vir 2019 beloop $2 550, meer as R33 000.)

Teen 1925 was roomys só gewild, dat ʼn afsonderlike kursus ontwikkel is. Die kursus word vandag nog steeds in Januarie aangebied, “die stilste tyd in die roomysbedryf”. Die departement van voedselwetenskap borg die program.

Lees meer oor die kursus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Avra ·

Yummy. Dis nou n interesant kursus wat ek graag sal wil bywoon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.