Wat maak Japannese tydens ʼn pandemie? Hulle bou ʼn robot natuurlik, en in hierdie geval is dit een van die wêreld se grootstes wat 18 m lank is en sowat 25 ton weeg.
Die reusagtige robot, wat gebaseer is op ʼn karakter uit Mobile Suit Gundam, ʼn klassieke anime-reeks van die 70’s, het Donderdag ʼn paar tree gegee, gekniel en sy hand beweeg. ʼn Video van die robot se bewegings is verlede week wyd op sosiale media gedeel.
Volgens die maatskappy wat massiewe hominoïede geskep het, is hulle ingenieurs reeds sedert 2014 aan die werskaf om die robot te ontwerp wat uit 200 stukke bestaan. Die stukke is gemaak uit ʼn materiaal wat ʼn mengsel van staal en plastiek is en met koolstofvesel (carbon fibre) versterk is.
Ingenieurs het met ʼn streng gewigsbeperking gewerk om te verseker dat die robot se struktuur nie ineenstort nie en dat al sy 24 beweegbare dele soos ʼn geoliede masjien saamwerk.
Bouwerk aan die Gudam-robot het egter in Januarie vanjaar eers in alle erns afgeskop en dit is reeds op 29 Julie vanjaar voltooi. Talle foto’s en video’s van die imposante robot wat oor die hawe van Jokohama, net suid van Tokio, uitkyk, is al wyd gedeel.
Volgens Popular Mechanics beskik die robot oor 24 grade van vryheid, wat beteken dit kan ook sy kop en borskas draai en sy vingers beweeg om ʼn verskeidenheid van handseine na te boots.
Dit sou aanvanklik op 1 Oktober by die Gundam-fabriek bekendgestel word, waar besoekers dit van nader kon beskou en leer hoe dit werk, maar die Covid-19-pandemie het ʼn stokkie voor die planne gesteek. Daar word nou beplan om die robot en sentrum eers volgende jaar amptelik vir die publiek te open.
Die Gundam-fabriek is ʼn vermaaklikheidsentrum in die stad wat gebaseer is op die Gundam-franchise wat uit manga-strokiesprente, TV-reekse, flieks en videospeletjies bestaan. Dié robot lyk soos die RX-78 uit die reeks. Die Japannese het al voorheen ʼn RX-78 gebou wat in Tokio se Odaiba-distrik gestaan het en dit is later met die RX-0 Unicorn Gundam vervang, maar nie een van die twee 19 m lange robotte kon werklik vrylik beweeg nie.
Ek sal my vrek skrik vir so ‘n ding!!
Toe ons nog jonk en mooi was, was Buck Rogers se Twiki ons almal se held. Mag sy grootboet net so suksesvol wees.
Biedie biedie veels geluk…
wow! mal oor dit
Wens my ou lyf kon so grasieus beweeg. Asemrowend mooi.