Video: Kat spog met touspring-rekord

Kit Kat en sy eienaar, Trisha Seifried (Foto: Guinness-wêreldrekords)

ʼn 13-jarige kat genaamd Kit Kat van Missouri in die VSA het ʼn ongelooflike mylpaal gehaal toe hy ʼn plek vir homself in die Guinness-wêreldrekordboek verseker het.

Saam met sy eienaar Trisha Seifried het hy ʼn touspringrekord vir katte opgestel: nege spronge binne 60 sekondes.

Hy oefen al sy lewe lank vir dié oomblik, het Guinness-wêreldrekords gesê.

Teen ses maande kon Kit Kat voor ʼn skare mense reeds touspring en het hy die mite, dat katte nie opgelei kan word nie, van alle waarheid ontbloot, het Seifried aan Guinness-wêreldrekords gesê.

Seifried het ʼn talentagentskap vir diere en het haar eie handelsmerk. Sy het op Kit Kat en sy sibbe afgekom in ʼn skuur saam met hul ma. Sy het in daardie stadium al jare lank as ʼn afrigter van diere gewerk.

Kit Kat kan nie net touspring nie: hy het byna 20 toertjies wat hy kan uitvoer insluitend om ʼn vatvyf te gee, te wuif, in die rondte te tol, op bevel te miaau en om op ʼn spesifieke teiken te gaan staan.

“Om tou te spring is beslis sy mees indrukwekkende toertjie,” voeg Seifried by. “Op sy ouderdom probeer ons egter dat hy so min as moontlik spring. Sy gunstelingtoertjie is om die vatvyf te gee. Hy vatvyf gereeld met sy aanhangers by geleenthede!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.