Video: Kishou-plesier soos Novak blitsige pot vier

Novak Djokovic (Julie 2021) (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Novak Djokovic is ongetwyfeld ʼn tennislegende. Buiten sy wonderlike talent, is aanhangers elke keer verras en beïndruk wanneer hy op die baan verskyn.

Die 34-jarige Serwiër het onlangs sy sesde Wimbledon-titel ingepalm en toeskouers verstom gelaat toe hy sy eerste ronde teen Jack Draper binne 46 sekondes afgehandel het.

Die video is oorspronklik reeds op 28 Junie op Wimbledon se amptelike YouTube-kanaal gedeel, maar het onlangs weer opslae gemaak toe dit op Twitter gedeel is. “Dalk die vinnigste pot tennis ooit?” het sakeman Harsh Goenka, voorsitter van die RPG Group, geskryf toe hy die video op Twitter gedeel het.

Djokovic het met vier kishoue die pot gewen. Een aanhanger het hom as “die koning van kishoue” beskryf.

Op YouTube het die gebruiker Quant Regio in die kommentaar geskryf: “Dis snaaks hoe mnr. Draper net van hoek tot hoek stap.”

Verstommend genoeg was dit nie die vinnigste pot tydens vanjaar se Wimbledon nie. Die Australiër Nick Kyrgios het sy pot teen Ugo Humbert binne slegs 43 sekondes afgeransel.

Maroela Media het vroeër berig Djokovic gaan by die Olimpiese Spele in Tokio in aksie wees. In die afwesigheid van groot name – onder wie Roger Federer, Dominic Thiem en Rafael Nadal – sal hy ook die gunsteling wees om met die Olimpiese louere weg te stap.

Die Australiese Ope-, Franse Ope- en Wimbledon-titels is reeds in die sakkie; ’n moontlike Olimpiese goue medalje sal saam met ’n moontlike Amerikaanse Ope-beker die kroon op ’n uitstekende jaar vir Djokovic span.

Trouens, nog net een speler in die geskiedenis van die spel – Steffi Graf in 1988 – kon al vier Grand Slam-titels en die Olimpiese Spele in een jaar wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.