Video: Konfrontasie met bronstige olifantbul dryf dogter tot gebed

'n Skermgreep uit die video.

‘n Skermgreep uit die video.

ʼn Gesin van Hoedspruit in Limpopo het opnuut die krag van gebed beleef toe hulle verlede naweek in ʼn wildreservaat langs die Krugerwildtuin ʼn nuuskierige, bronstige olifantbul teëgekom het wat net nie wou padgee nie.

Die selfoonvideo van dié angswekkende konfrontasie het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en is reeds bykans 500 000 keer gekyk en meer as 15 000 keer op Facebook gedeel.

In die video kan gehoor word hoe Jakes Oosthuizen se dogter in die agterste sitplek haar pa herhaaldelik smeek om haar ruit toe te maak en sy uiteindelik begin bid vir die olifant om te wyk. “Here, vergeef asseblief my sondes en vat hom weg. Here, ek vra u asseblief so mooi. Beskerm ons en hou ons in u hand,” bid die 17-jarige Kaylin, wat ook die video geneem het. Die olifant gee net ná die gebed pad.

Oosthuizen vertel aan Maroela Media hy en sy gesin het op pad terug van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees besluit om by die Manyeleti-natuurreservaat langs die Krugerwildtuin te kampeer nadat die wildtuin reeds vol bespreek is. Op pad na die kampterrein het dié olifantbul in die pad gestaan.

Die Oosthuizen-gesin: Jakes, Clarice, Colette en Kaylin. (Foto: Verskaf)

Die Oosthuizen-gesin: Jakes, Clarice, Colette en Kaylin. (Foto: Verskaf)

Saam met hom in die Toyota Land Cruiser, wat ʼn 4×4-kampwaentjie gesleep het, was sy vrou, Colette, hulle twee dogters, Clarice (18) en Kaylin (17), en ʼn vriendin van die dogters, Carma Loots (18).

“Ons het om die draai gekom op ʼn tweespoorpaadjie in ʼn beboste gedeelte wat ruier was as die res van die park en hier is toe hierdie groot olifantbul in ons rigting op pad. Ek kon sien aan sy ore hoe lek die hormone en dat hy bronstig is,” vertel Oosthuizen.

“Die bulle is dan mos gewoonlik meer parmantig as gewoonlik en lus vir baklei, net soos ʼn ou man wat moeilik is,” skerts hy. “Toe weet ek ons het moeilikheid.”

Hy vertel hy het onmiddellik die voertuig en waentjie so ver as wat hy kon in die bosse teruggestoot. “Ek was beïndruk dat ons so diep kon wegkom, omtrent 30 tree uit die pad uit. Ek het dadelik die voertuig afgeskakel en gehoop hy sal net verby ons gaan. Sy nuuskierigheid het hom egter beetgekry en toe hy na ons toe draai, het almal begin paniekerig raak. Dis toe dat die voorstelle oor wat ons moet doen in die voertuig begin opklink, maar eintlik is daar niks wat jy kan doen nie.”

Volgens Oosthuizen het hy geen keuse gehad as om sy dogter se pleidooi om die venster toe te maak, te ignoreer nie. “Mense haal my uit, maar die beste ding om in so ʼn situasie te doen is om so min geluide moontlik te maak. As ek die venster wou toemaak, sou ek die voertuig moes aanskakel, die lugdraad sou voor by die olifantbul uitgekom het en die radio sou aangaan.”

Hy voeg by dat hy wel een ding anders sou doen, naamlik om nie te fluister nie, maar eerder in ʼn normale stemtoon te praat. “ʼn Goeie vriend van my wat jare lange ondervinding in die bos het, het vir my gesê dis beter om in ʼn normale stemtoon te praat sodat die olifant nie hoef te wonder wat binne-in die voertuig aangaan nie.”

Oosthuizen sê hoewel hy koelkop gebly het, het hy self benoud geraak toe die olifantbul sy voorpoot op die voertuig gesit het. “Ek het gedink hy gaan opklim.”

Oor die skade wat aan die voertuig gerig is, is hy min gepla. “Die voorlig van die voertuig is gebreek en oral waar hy met sy slurp gedruk het, lyk dit of die voertuig met growwe skuurpapier geskuur is. Dit gaan my ʼn goeie paar rand uit die sak jaag om die voertuig reg te maak, maar die duike en skrape is die minste – dit kon soveel erger gewees het.”

Hy lag wanneer hy vertel van sy dogter se gebed. “Sy het besluit sy gaan haar pa, wat besig is om haar te ignoreer, override, en reguit na die Groot Pa toe gaan en direk bid vir beskerming. En daar draai die bul weg van ons af en gee pad. Dit was ʼn skrikwekkende voorval, maar op die ou end is daar miskien êrens ʼn ma wat vir ʼn kleintjie die krag van gebed kan wys met dié video.”

“Pappa my venster….”, ”Here vergeef asb my sondes en vat hom weg” …. arme kind ???????????????? (gekry via Whattsapp, eienaar kontak asb admin vir erkenning !)

Posted by SA Jagters/SA Hunters Bloemfontein on Monday, July 1, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Maria ·

Verking sal my broek nat maak ha,ha…dit nou n storie AMEN!!!

Sorika ·

Kaylin, jy is ‘n voorbeeld vir almal van ons en baie dankie dat jy weereens bewys het hoeveel krag daar in gebed is. Ek kon die angstigheid en vrees hoor in jou stem, maar jou onskuldige maar opregte gebed is verhoor. Dankie Here dat U net bewys het aan ons soms ongelowiges dat U altyd in beheer bly en dat ons nie moet vrees nie.

Andreas ·

Tarzan… man! jy is ‘n Tarzan…. Ons het een jaar naby ‘n kamp in die suide van Die Wildtuin saam met ‘n string ander karre na ‘n paar renosters sit ek kyk, twee was aan die regterkant van die grondpad, ‘n ander een aan die linkerkant. Mens kon sien sy wil ook oor na die ander beweeg, nou beloer sy die karre wat die pad versper waar sy wil oor, ons het al teruggetrek om ruimte te gee, so beduie ek ook vir ander karre, die renoster kom dan nader, steek agter ‘n bos vas, draai om en beloer die karre, want een ou daar ent voor ons, daar waar sy wil oor, sit in ‘n ligblou kombi agteroor, die voete oorkruis op die konsole gevou, hy het nou mos grootmeneer die pad annekseer, kyk rond of almal hom sien, die volgende oomblik storm die koei en steek daar so meter van die kombi vas, draai om, draf ent weg waarna dit weer die kombi beloer…..

Blackie ·

Sjoe, mens kan die angs aanvoel. Knop in my keel vir die ongelooflike krag van gebed.
Ek is bly julle is veilig.

Sonja ·

Ai dit is altyd so wonderlik dat dit al is wat ons kinders net vra asb mamma en pappa beskerm my!! Maar ons weet waar ons HULP vandaan kom.

Wim ·

Ek sal verkies om nie so vir die plooie op sy slurp te staar nie en sal ook nie vir hom sê dat hy plooie het nie.

Gelukkig was sy ore darem ook nie teen sy lyf terruggetrek nie, wat sou aandui dat hy nie in ‘n goeie bui was nie

Stem ·

Ag, dis so so pragtig. Meisiekind, jy is op die regte pad. Dis vir my veral ook bitter mooi dat sy vir haar pa nog Pappa noem. Julle is ‘n baie mooi gesin. Dankie vir die video.

Zettie ·

Daai arme mense! Hoe bang moes hulle nie gewees het nie??? Die arme kind………gelukkig was daar darem ‘n goeie einde tot die vreesbevange oomblik. Ek kon nie help om na die kyk van die video eintlik te sit en giggel nie. Wat as dit ek was? Ek weet nie of ek so stil en “kalm” sou gewees het nie.

Pensioenaris ·

Kyk, hulle is baie brawer as ek… my hart sou dit beslis nie gehou het nie – dan het my kinders nog met die oorle ouma ook in die kar gesit het! Dis beslis senuwees van staal- maar wat kan jy anders in hierdie geval doen as net wag…. Dankie tog dit het goed afgeloop.

humor ·

Hierdie olifantbul toon geen teken van agressiwiteit nie. Hy kom heel rustig aangestap. Sy ore is wyd oopgesprei, indien hy agressief was sou hy baie meer onrustig aktief wees en meer doelgerig na die motor aangestap het, en sy ore sou plat teen sy nek getrek wees. Moontlik sou hy voor die motor tot stistand gekom het en sy kop opgeruk het om te se geepat. Hy stap blood weg. Indien hy agressief was sou hy binne kort afstand weer gaan staan het. Hy was duidelik net verveeld en nuuskierig

Magaretha van heerden ·

Kaylin mag hierdie traumatiese gebeurtenis vir jou en jou hele gesin die begin wees van n lewendige verhouding met Jesus Christus. Moenie toelaat dat mense dit net aflag nie. Neem Hom aan, gee jou lewe aan Hom oor en wees gehoorsaam aan alles wat Hy ons beveel in die Woord. Lees wat almal wat Hom aangeneem het gedoen het nadat hulle Hom ontmoet het. Dit is amazing hoe Hy jou lewe verander as jy Hom volg. Jy het n wonderlike getuienis van Sy genade. Sterkte en geniet die pad vorentoe saam met Koning Jesus.

Jack ·

Roekeloos en uitdaging van die noodlot. Daar is nie pille nie…

Esme ·

Daar was nie roekeloosheid by betrokke nie.. lees die pa se verduideliking van wat gebeur het, dan sal jy verstaan. Stadig met die klippe gooi..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.