Mark Rober, ʼn voormalige ingenieur van Nasa wat nou opvoedkundige video’s op YouTube deel, het by ʼn klaskamer ingeloer om te wys hoe maklik kieme versprei.
Mark het ʼn produk genaamd Glo Germ gebruik om te visualiseer hoe die kieme versprei. Glo Germ is ʼn poeier wat nie met die blote oog op mens se vel of oppervlakke gesien kan word nie, maar helder gloei onder ʼn ultravioletlig.
Hy het met die juffrou gereël dat sy (met haar hande bedek met die poeier) vroegoggend aan ʼn paar kinders se hande sou vat en teen pouse het hy met ʼn ultravioletlig ondersoek ingestel hoe dié “kieme” versprei het.
Dis duidelik uit sy beeldmateriaal dat ons nie eintlik besef hoe maklik kieme versprei nie.
Selfs ná kinders hul hande gewas het, was spore van die poeier ook nog steeds op hul hande te sien.
In die laaste eksperiment het hy van die poeier aan een kind se hande gesmeer en hom aangesê om blad te skud met een ander kind. Die tweede een skud dan blad met die derde kind, die derde met die vierde en so aan. Die “besmetting” was tot op die sewende kind in die ry se hande te sien.
Dis nou baie leersaam en prakties. Ek hou van die voorstelling. Maklik vir kinders veral om te verstaan.