Video: Kyk net so slim orangoetang

(Foto: @minorcrimes/TikTok)

Hierdie orangoetang het gewys sy weet presies wat om met ʼn sonbril te doen.

Die TikTok-gebruiker Lola Testu (@minorcrimes) het miskien haar sonbril verloor, maar is ʼn wonderlike video ryker van die orangoetangwyfie by Taman Safari, ʼn dieretuin in Bogor, Indonesië, wat die bril opsit.

Testu het die video Sondag gedeel en dit is reeds meer as 38 miljoen keer gekyk.

Volgens Testu het die bril per ongeluk van haar kop afgeval. “ʼn Paar minute later het een van die mamma-orangoetangs gekom, die bril opgetel en die res is op video vasgelê.”

Nadat sy die bril opgetel het, beweeg sy na ʼn rots en pas dit op terwyl sy die volgehoue belangstelling van haar baba probeer afweer.

Kort daarna lyk dit of sy met die bril verveeld raak en gooi dit terug na die skare.

Kykers was gefassineerd dat die orangoetang gelyk het of sy weet wat met sonbril te doen, in stede daarvan om dit te probeer eet of net daarmee te speel.

Volgens die Wêreldnatuurfonds (WWF) deel orangoetangs 96,4% van menslike gene. Orangoetangs, wat groot ape is, het in die verlede al mense se gedrag nageboots. Volgens BBC Earth was ʼn orangoetang met die naam Rocky die eerste primaat wat in 2016 menslike spraak nageboots het.

WWF het gesê orangoetangs is tans kritiek bedreig.

Kyk hier na die video:

@minorcrimes

So I’m down a pair of sunglasses but up a very good story #monke

♬ original sound – Lola Testu

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kirst ·

Hulle is baie goeie nabootsers van mense. Ek het in die tagtigs ‘n kursus bygewoon by die Pretoria dieretuin tydens skoolvakansie. In die middagetes kon ons rondloop in die dieretuin. Daar het ek gesien hoe iemand vir die orangoetang ‘n halfgerookte sigaret “laat val” net binne die hok. Die primaat het van die drom waarop hy gesit het afgeklim, die sigaret opgetel en terug op die drom geklim. Daar het hy dit tussen sy vingers vasgehou en ‘n paar trekke gevat en rook uitgeblaas nes ‘n mens. Toe druk hy die sigaret dood teen die drom waarop hy sit, en skiet die stompie weg.

Belinda ·

Is verbasend hoe slim diere eintlik is. Mense misgis hul baie. Ekt die video op facebook gesien en dink dis te oulik hoe die orangoetan presies geweet het waar die bril moet gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.