Video: Miljoene kyk na dié pa se video oor dissipline

Skermgreep uit die video

Die was een van die gedorie-artikels wat vanjaar die meeste op Maroela Media gelees is:

Bryan Thornhill van Cave Springs in Kalifornië, VSA, het ʼn “kreatiewe plan” beraam om sy seun – wat boeliegedrag getoon het, te straf. Thornhill het verlede Donderdag die video op sy Facebook gelaai en dit is reeds deur meer as 1,4 miljoen persone gekyk.

Hy het twee kinders, Hayden (10) en Temperance (8). “My seun het uiteindelik in soveel moeilikheid gekom op die skoolbus, dat hy vir drie dae geskors is en nie met die bus mag ry nie. Hy was ʼn boelie – en dit is iets wat ek nie duld nie.”

Thornhill het gesê hulle bly ongeveer 1 myl (1.6 km) van die skool af. “Hy moes dus elke dag skool toe hardloop.”

In die video kan jy sien hoe die pa die seun stadig met sy motor agtervolg. “Die goeie nuus is dat hy nogal ʼn goeie tempo handhaaf teen 6 mph (9.6 km/h).”

“Hy was gister bietjie onbeskof met sy ma, so selfs vandag wat dit reën, moet hy nog steeds skool toe hardloop. Die goeie nuus is dat sy gedrag hierdie week verbeter het. Sy onderwysers het sy gedrag hierdie week goedgekeur, hy het nog glad nie hierdie week in die moeilikheid gekom by die skool nie, waar hy verlede week buite beheer was.”

Thornhill sê dit is bloot bietjie outydse ouerskap. “Niemand gaan dood nie, dis ʼn gesonde manier om ʼn kind te straf; dis boonop goeie oefening, iets wat mense dink kinders nie meer nodig het nie. Mens hoef hulle nie altyd te slaan nie. Sy onderwysers geniet hierdie week sy geselskap. Hy ontwrig nie die klas of sy maats nie.”

Hayden het dieselfde week ook vir sy sussie gesê sy pa is altyd daar vir hom. “Pappa het my nog nooit gelos nie, pappa was nog altyd aan my sy. Soms hou ek nie daarvan nie, maar dis wat van hom ʼn goeie pappa maak – want hy weet wanneer om my bietjie vas te vat as ek moeilikheid maak en hy moet seker maak ek doen die regte ding. En dis hoekom hy die beste pappa in die wêreld is.”

Thornhill sê dié woorde kom uit die mond van ʼn 10-jarige wat geweet het hy gaan ʼn myl moet skool toe hardloop – want hy besef wat ouerskap beteken. “Hy weet – as hy ʼn fout maak, dan moet hy die prys betaal. Leer jou kinders. Moenie hulle vriend wees nie, wees ʼn ouer – dis wat kinders deesdae nodig het: ouers.”

Vir persone wat kla dat dit neerkom op kindermishandeling, het Thornhill Maandag nog ʼn video opgelaai waar hy self saam met die twee kinders hardloop. “Hayden het die hardlopery só geniet, dat hy dit nou elke dag wil doen, selfs al hoef hy nie meer nie! Hayden dink hy gaan my wen (hy’s waarskynlik reg), Temperance wil sien wie is die vinnigste en ek probeer net oorleef!” het Thornhill geskerts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.