Video: Miljoene kyk na dié pa se video oor dissipline

Skermgreep uit die video

Bryan Thornhill van Cave Springs in Kalifornië, VSA, het ʼn “kreatiewe plan” beraam om sy seun – wat boeliegedrag getoon het, te straf. Thornhill het verlede Donderdag die video op sy Facebook gelaai en dit is reeds deur meer as 1,4 miljoen persone gekyk.

Hy het twee kinders, Hayden (10) en Temperance (8). “My seun het uiteindelik in soveel moeilikheid gekom op die skoolbus, dat hy vir drie dae geskors is en nie met die bus mag ry nie. Hy was ʼn boelie – en dit is iets wat ek nie duld nie.”

Thornhill het gesê hulle bly ongeveer 1 myl (1.6 km) van die skool af. “Hy moes dus elke dag skool toe hardloop.”

In die video kan jy sien hoe die pa die seun stadig met sy motor agtervolg. “Die goeie nuus is dat hy nogal ʼn goeie tempo handhaaf teen 6 mph (9.6 km/h).”

“Hy was gister bietjie onbeskof met sy ma, so selfs vandag wat dit reën, moet hy nog steeds skool toe hardloop. Die goeie nuus is dat sy gedrag hierdie week verbeter het. Sy onderwysers het sy gedrag hierdie week goedgekeur, hy het nog glad nie hierdie week in die moeilikheid gekom by die skool nie, waar hy verlede week buite beheer was.”

Thornhill sê dit is bloot bietjie outydse ouerskap. “Niemand gaan dood nie, dis ʼn gesonde manier om ʼn kind te straf; dis boonop goeie oefening, iets wat mense dink kinders nie meer nodig het nie. Mens hoef hulle nie altyd te slaan nie. Sy onderwysers geniet hierdie week sy geselskap. Hy ontwrig nie die klas of sy maats nie.”

Hayden het dieselfde week ook vir sy sussie gesê sy pa is altyd daar vir hom. “Pappa het my nog nooit gelos nie, pappa was nog altyd aan my sy. Soms hou ek nie daarvan nie, maar dis wat van hom ʼn goeie pappa maak – want hy weet wanneer om my bietjie vas te vat as ek moeilikheid maak en hy moet seker maak ek doen die regte ding. En dis hoekom hy die beste pappa in die wêreld is.”

Thornhill sê dié woorde kom uit die mond van ʼn 10-jarige wat geweet het hy gaan ʼn myl moet skool toe hardloop – want hy besef wat ouerskap beteken. “Hy weet – as hy ʼn fout maak, dan moet hy die prys betaal. Leer jou kinders. Moenie hulle vriend wees nie, wees ʼn ouer – dis wat kinders deesdae nodig het: ouers.”

Vir persone wat kla dat dit neerkom op kindermishandeling, het Thornhill Maandag nog ʼn video opgelaai waar hy self saam met die twee kinders hardloop. “Hayden het die hardlopery só geniet, dat hy dit nou elke dag wil doen, selfs al hoef hy nie meer nie! Hayden dink hy gaan my wen (hy’s waarskynlik reg), Temperance wil sien wie is die vinnigste en ek probeer net oorleef!” het Thornhill geskerts.

https://www.facebook.com/ganglandbible/videos/1561967033914451/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Andre ·

Maak asb ‘n plan met videos wat net op Facebook gesien kan word.
Ons mag nie op Facebook wees by my werk nie. (Sekireteitsgevaar)

Koeks ·

Stem saam. Asseblief, Maroela. Ons is nie almal op fb nie. Dankie…

Anoniem ·

Laat Lesufi elke oggend kantoor toe hardloop, dan sal sy gedrag dalk ook verbeter.

MAGGIE ·

JAAAAAA man…….’n GESONDE liggaam HUISVES ‘n gesonde GEES!!!

Gemaskerde Sopbeen ·

Wat is nou “dissipline” hieraan? Ek het elke dag van ‘n Hoërskool ‘n 26 dikwiel 2km skool toe getrap, pouse gou huistoe, 1uur huistoe, 4uur sportgronde toe, rugby ge-oefen, na rugby 2km girlfriend se huis toe, en as die son aan die horison raak, 3km huistoe….want die reëls was “by die huis voor donker” anders het jou boude dit geweet!! Ons het nie tyd gemors met “fiksheid” nie, ons WAS klaar fiks van fietsry. Vandag moet die mammies half-miljoen Rand SUV’s opstart om Jannie voor skool by die skool te kry waar hulle R800 per maand betaal om hom “fiks” te kry vir sport!!!

JSG ·

Stem volkome saam. Het ook self eers van 05:00 in die oggend melk afgelewer in die dorp (koepon stelsel, vir wie ook nog ken of onthou) en dan die 1.6km (1 myl) skool toe met ‘n fiets of gedraf. Natuurlik daai jare sonder iemand wat my vergesel het. Was toe nog veilig. Fiks wees en fisies aktief het jou brein “skoon” gehou. Soos die ou gesegde gaan ” ledigheid is die duiwel se oorkussing”

Ek is Sam ·

Ja, man … ons almal het! Ek het as Gr 1 dogtertjie kaalvoet so 4 km skool toe afgelê …

Maar wat julle vergeet: Vandag waag ek nie om my kind 4 km op sy fiets te laat ry nie, want om elke hoek en draai word mense beseer as hul fietse geroof word. Kinders word ontvoer – daar is nie ‘n manier my 14-jarige langbeen dogter met lang blonde hare en die blouste oë toesig verlaat nie.

Dis hartseer dat ons kinders die vryheid ontneem word wat ons geniet en gevorm het.

Die verdomde satan en sy trawante!

LL ·

En jou voorvaders het oor berge geloop. Tye verander. ók maar lekker jaloers op die mammas se SUV’s.

Kaspaas ·

Blink idee, weet net nie of dit haalbaar is in SA nie? Maar daar is nog steeds iets positief om daaruit te leer!

Nettie ·

Ag, wat – geen skade is gedoen nie. Ons het ook bus gevat skool toe; die verskil was ons laerskool was 3,75 myl van die huis af en ons hoërskool was 10 myl van die huis af. As jy laat was vir die bus, was daar geen ander keuse (op laerskool) nie – stap het jy gestáp tot by die skool, reën, son, wind, hitte of koue ten spyt! En dan het jou boude gebrand as jy by die skool laat was. En vir hoërskool? My pa sou die bus ingery het tot by die volgende bus-stop en vanaand het jou boude gebrand omdat jy laat was vir die bus. En so het ons verantwoordelikheid geleer.

Denise ·

Baie blink idee die draf maak dat hy ontslae raak van al sy negatiewe emosies ek glo aan vinnig loop dit is net goed vir die siel en liggaam !!!!!

Casper Labuschagne ·

Ouskool, elemetêre ouerskap – presies wat nodig is.

Oulik ·

Tough Love, roer hom . .. kinders raak buite beheer vandat hulle nie meer gestraf mag word nie, en NEE ek is nie ten gunste van aanranding of lyfstraf nie, maar hierdie is ‘n gepaste straf, . .die outjie sal tweekeer dink voordat hy weer ander boelie.

JSG ·

In die 70’s was dit niks snaaks. Omtrent almal het of fiets gery skool toe of gestap. Meeste afstande was meer as een myl. Miskien die rede hoekom daar omtrent geen boelies in ons skool was. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.