Video: ʼn ‘Ontploffing’ van die noorderlig in Alaska

Skermgreep uit die video

Video’s van natuurlike verskynsels is baie gewild op sosiale media omdat dit die skoonheid van die Skepping uitbeeld.

ʼn Aurora, ook noorder- of poollig genoem, is die verskynsel met ʼn baie helder glans wat in die nag naby die pole waargeneem kan word. Dit word veroorsaak deur gelaaide deeltjies wat vanaf die ruimte die aarde se atmosfeer binnedring en gasse in die atmosfeer ioniseer.

Die aurora is ʼn ligskynsel wat enkele male per jaar aan die suider- sowel as aan die noorderhemel waargeneem kan word. In die poolstreke is dit naastenby elke nag sigbaar. Dit is boonop op baie mense se wenslys van verskynsels wat hulle graag in hulle lewens wil beleef.

ʼn Video deur die gebruiker Vincent Ledvina op Instagram wys ʼn manjifieke “ontploffing” van die aurora in Alaska in die VSA. “Aurora-ontploffing in Alaska! Kan nie wag om weer terug te gaan nie,” lui die beskrywing by die video.

Volgens inligting op sy profiel is Ledvina ʼn wetenskaplike. Hy noem homself “The Aurora Guy”. Hy bestudeer ook ruimteweersomstandighede en is ʼn kenner om die groen lug op te spoor.

Teks op die video lui: “Dis wat ek bedoel wanneer ek sê die aurora kan ‘ontplof’.” Die video wys hoe die hemelruim met groen golwe gevul word.

“Die aurora was só sterk dat dit my kamera oorbelig het. Dit was net so groen vir die blote oog.”

Ledvina verduidelik die ontploffing is eintlik ʼn substorm, waar die aurora vir ʼn kort rukkie verhelder en wyer versprei.

Die video is reeds meer as 3,2 miljoen keer gekyk met ʼn rits kommentare van mense wat in verwondering staan. “Dis my droom om eendag die aurora te sien!” skryf een persoon. “Wow, dis wonderlik!” skryf ʼn ander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.