[Video] ʼn Splinternuwe lewe vir ou poppe

Tree Change Dolls deur Sonia Singh (Skermskoot uit die video)

Tree Change Dolls deur Sonia Singh (Skermskoot uit die video)

Sonia Singh, ʼn kunstenaar, illustreerder en wetenskaplike, van Tasmanië, Australië, gee ou, stukkende Bratz-langbeenpoppe ʼn splinternuwe lewe met splinternuwe gesigte.

Singh se “Tree Change Dolls” het in 2015 skielik begin opslae maak toe sy foto’s van die poppe op haar Facebook-rekening gepubliseer het.

Sy skaf ou, gewoonlik Bratz-langbeenpoppe, aan en verwyder dan hul grimering. Sy vorm nuwe voete en hande uit klei indien nodig en verf dan ʼn splinternuwe, meer natuurlike, gesiggie.

Singh het glad nie die reaksie verwag wat sy gekry het nie: versoeke vir haar poppe het skielik begin instroom.

'n Bratz-pop (links) verander in 'n Tree Change Doll (regs) (Skermskoot uit die video)

‘n Bratz-pop (links) verander in ‘n Tree Change Doll (regs) (Skermskoot uit die video)

Sy verf steeds self die poppe en haar ma maak kleertjies voor hulle maandeliks ʼn paar van die poppe vrystel.

Die volgende groep poppe word in Aprilmaand vrygestel en kos gewoonlik tussen $75 en $260 Australiese dollar (tussen ongeveer R900 en R3 000) per pop. Die poppe verkoop egter elke maand binne ʼn paar minute uit.

Singh moedig ander persone aan om ook hul eie poppe en speelgoed te herwin. Sy het selfs ʼn doen-dit-jouself-afdeling op haar webwerf wat vir jou wenke gee hoe om dié poppe te maak en ʼn paar breipatrone waarvolgens jy kleertjies kan maak. Let asseblief op haar kennisgewing voordat jy besluit om van jou poppe te verkoop.

Singh verduidelik die naam, “Tree Change”, is ʼn term wat gebruik word wanneer mense uit die stad na die platteland verhuis om ʼn rustiger lewe te lei. “Dis afgelei van die oorspronklike term, “seachange”, wat beteken het mense het hul huis in die stad verkoop om na ʼn klein kusdorpie te verhuis.

Besoek haar winkel
Facebook
Kyk na haar doen-dit-jouself-video’s
Volg haar op Twitter
Instagram /
E-pos: [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.