[Video] ʼn Toeris in Noord-Korea

Jacob Laukaitis in ‘n straat in Noord-Korea (skermgreep uit die video)

Jacob Laukaitis het die afgelope vier jaar al oor die wêreld heen gereis, en het onder andere ook Noord-Korea besoek.

Jacob is ʼn onafhanklike entrepreneur en volgens hom is sy lewensleuse: “Die lewe is kort. Waarom wil jy ʼn sekonde mors?”

Hy het in Augustus 2016 Noord-Korea besoek. “Ek het altyd in Noord-Korea belanggestel, want dit bly een van die mees unieke en geheimsinnigste lande in die wêreld. Hierdie video is ʼn dag-tot-dag-vertelling van die sewe dae wat ek in dié land spandeer het.

“Mens kan nooit seker wees of enigiets vooraf beplan is nie, want in Noord-Korea wys hulle slegs vir jou dit wat hulle wil hê jy moet sien. Jy kan nie kies waarheen of wanneer jy na ʼn spesifieke plek toe wil gaan nie, hulle sê slegs jy moet op ʼn bus klim en waar jy weer moet afklim.”

Jacob verduidelik die toergroep is deurgaans deur ʼn toerleier gelei en vergesel en foto’s (en video’s) mag slegs met toestemming geneem word.

Die groep is ook in ʼn pretpark toegelaat en kon op ʼn tuimeltrein ry, maar Jacob verduidelik nadat die tuimeltrein tot stilstand gekom het, mag hulle nie op enigiets anders in die pretpark gery het nie en hulle moes die pretpark ook dadelik verlaat.

“Ek gee glad nie my mening in hierdie video of dit wat ons gesien het, vooraf beplan is nie. Ek sê ook nie of dinge goed of sleg of eerlik of oneerlik is nie. My doel was om vir jou te wys hoe my dag gelyk het toe ek daar was en ek laat dit aan jou oor om jou eie afleiding te maak.”

“Vir my is vryheid alles: vryheid om te kies watter werk jy wil doen, wat jy wil lees, waarheen jy wil gaan of waar jy wil bly. Dis hartseer om te besef dat miljoene mense nie dié vryheid beleef nie, bloot omdat hulle in ʼn ander plek gebore is.”

Presies een jaar ná sy reis na Noord-Korea, het hy in Augustus vanjaar na Suid-Korea gereis en ʼn video gemaak waar hy na die verskille van die twee lande kyk. (Sien die video ook onderaan hierdie berig.)

Jacob het ook al 8 000 km oor Nieu-Seeland gereis en Forbes het ʼn onderhoud met hom gevoer oor sy lewe as ʼn digitale reisiger. Volgens hom verstaan meeste mense nie hoe hy op lang reise kan gaan en op $5 per dag kan oorleef nie. Hy het ʼn eBoek geskryf, 19 Proven Ways to Quit The 9 to 5 And Become a Digital Nomad. Jy kan die boek hier gratis aflaai.

Volg Jacob se avonture op YouTube, Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Werner ·

Dit is baie goeie video. Ons land kan soos Suid-Korea wees, maar ongelukkig beweeg ons in Noord- Korea se rigting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.