Video: Noodkrete is toe al die tyd ʼn papegaai

Skermgreep uit die video

Die klank van ʼn papegaai wat “laat my uit!” geskree het, was só lewensgetrou dat ʼn buurvrou die polisie ontbied het, besorg dat ʼn vrou dalk werklik in die moeilikheid is.

Die polisie in Florida was egter verras toe hulle op die toneel aankom en ʼn papegaai aantref.

“Ons beamptes in Lake Worth Beach is ontbied om iemand by te staan wat om hulp skree,” het die Palm Beach County Sheriff op Facebook gesê. “Dit was skreeusnaaks.”

Volgens die polisie het die papegaai se eienaar verlede week in die oprit van hul huis aan sy vrou se motor gewerk. Die papegaai, Rambo, het naby die huis se ingang gesit en het gesing en met homself gesels.

Rambo se krete van “Laat my uit! Laat my uit! Ohh! Ohh!” was só lewensgetrou dat ʼn buurvrou die polisie ontbied het – besorg dat iemand in die moeilikheid is.

“Ek was besig om die motor se remme te vervang en my 40-jarige papegaai, Rambo, het buite gesit waar hy sing en gesels. Vier polisiebeamptes het later opgedaag en gesê ʼn buurvrou het hulle ontbied omdat sy ʼn vrou se hulpkrete gehoor het,” het die eienaar gesê. “Ek het hulle dadelik aan Rambo voorgestel en ons het almal lekker saamgelag.”

In die video kan mens hoor hoe Rambo se eienaar aan die beamptes sê: “Ek sal die skreeuer vir julle bring.” Hy verdwyn dan van die kamera en gryp Rambo, ʼn helderkleurige groen en geel papegaai.

Die eienaar het ná die voorval sy geveerde vriend ook aan die buurvrou bekendgestel wat die polisie ontbied het.

Volgens die eienaar het hy dié woorde as ʼn kind aan Rambo geleer, toe hy in ʼn hokkie gewoon het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Slim ·

My ma het ook een met ‘n baie groot woordeskat. Die hondjie aan die ander kant van die heining gaan ook een van die dae skree “laat my uit”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.