Video: Op, op, op in die lug met 52 ballonne

Skermgreep uit die video

Waaghals David Blaine het Woensdag sy jongste toertjie uitgevoer: byna 7 600 m in die lug in op in Arizona terwyl hy aan slegs ʼn paar groot ballonne hang. Hy het met ʼn valskerm veilig teruggekeer grond toe.

“Dis soos toorkuns – dit voel of ek in die lug dryf,” het Blaine op die radio aan sy span op die grond gesê. Die 47-jarige Blaine is bekend daarvoor dat hy waaghalsige toertjies uitvoer.

ʼn Video van die geleentheid, wat Blaine “Ascension” noem, is op YouTube gedeel en kykers kon regstreeks inskakel. YouTube het gesê die video het ʼn nuwe rekord opgestel as een van die regstreekse video’s met die meeste kykers – meer as 770 000 persone.

Hy het by ʼn landingstrook in Page, Arizona opgestyg met die 52 ballonne. Hy het geleidelik klein gewiggies laat val om sy stygtempo te versnel. Hy het ook ʼn suurstofmasker gedra toe hy sowat 24 900 voet (byna 7 600 m) genader het – dieselfde hoogte as wat meeste kommersiële vliegtuie vlieg.

Hy het hom in ʼn stadium van die tros ballonne losgemaak en vir sowat 30 sekondes gevryval voor hy sy valskerm oopgemaak het om terug te keer aarde toe. “Wow, dit was ongelooflik,” het Blaine oor die radio geskree toe hy geland het.

Hy het twee jaar lank vir die voorval voorberei, insluitend om sy vlieglisensie te kry.

Blaine het homself al vantevore in ʼn visbak toegesluit, hy het vir twee dae lank in ʼn blok ys vasgesit in Times Square en het 35 uur lank op ʼn dun, hoë pilaar in New York gestaan. Woensdag se toertjie het slegs 30 minute lank geduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niklaas ·

Duidelik het hy baie spaar tyd vir sulke toertjie beplanning en uitvoer daarvan . En natuurlik het hy heelwat geld in die bank om homself te onderhou , tensy hy groot somme verdien na elke waaghalsige truuk.

Annalie ·

Al daai balonne land uiteindelik in die see as plastiekrommel !!!!!!!

Gawie ·

Ek wonder wie moes later teruggaan om die valskerm te gaan oplaai?

Die Goodwoodianer ·

Laat mens dink aan alternatiewe vervoer planne… Afgesien van die bekende lugballon, bou ñ veilige platform met ballonne/lugballe onderaan en waaiers vir dryf/stuur/stop wat bekragtig word deur battery-tegnologie… vermy die verkeer en spaar geld op brandstof. Wie’s game?

Gawie ·

Iets maak nie sin in die berig nie – dit sê aan die einde dat die toertjie slegs 30 minute geneem het, maar die video van die toertjie is amper 3 ure lank? Watter deel van die hele proses word beskou as die toertjie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.